Ngwathe raadsvergadering uitgestel
By 'n eerste raadsvergadering word die burgemeester en Speaker onder meer gekies.
Die eerste raadsitting van die nuwe Ngwathe raad sal nou eers Maandag 23 November plaasvind. Daar was aanvanklik sprake dat die vergadering vandeesweek gehou sou word.
Die nuwe munisipale rade moet binne 14 dae nadat die amptelike verkiesingsuitslae in die staatskoerant gepubliseer is, vergader.
Wat gebeur by die eerste raadsvergadering ?
Volgens COGTA (Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake) is die eerste raadsvergadering een van die belangrikste stappe in die daarstel van funksionele plaaslike regerings.
- ‘n Speaker moet gekies word wat onder meer die taak het as voorsittende beampte by raadsvergaderings.
- ‘n Burgemeester moet gekies word. In Ngwathe se geval sal dit nie meer ‘n uitvoerende burgemeester wees soos vantevore nie.
- Uitvoerende strukture moet saamgestel word.
- Die sogenaamde MPAC-komitee (Municipal Public Accounts Committee) moet saamgestel word. Die komitee speel ‘n belangrike oorsigrol ten opsigte van munisipale verantwoordbaarheid.
Waar koalisie gesprekke nog nie gefinaliseer is nie, word voorgeskryf deur die wet dat dié onderhandelings nie die vereiste prosesse wat verwag word by ‘n eerste raadsvergadering moet vertraag nie, het COGTA gesê.
Daar is benadruk dat munisipaliteite stabiele leierskap en effektiewe bestuurstrukture nodig het om dienslewering aan gemeenskappe te verseker.




