Local newsNews

Paddakoor laat hul stemme luidkeels hoor in die vleiland ná die reën

Wanneer jy weer naby die dam deur die Parys vleiland beweeg, staan 'n oomblik, en luister.

Ná die reën laat selfs die paddas nie op hulle wag nie. Saans hoor jy uit verskillende rigtings die paddakore. met die skurwepaddas, blokslanertjies, sandpaddas, borrelvleipaddas en rivierpaddas wat domineer, terwyl die rooirug skurwepaddas en brulpaddas bedags aktief is.

Professor Louis du Plessis, professor in dierkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, verduidelik dat brulpaddas nooit in permanente water, soos riviere of groot damme, broei nie. Hulle verkies panne en dammetjies wat in die winter opdroog. Hulle broei soggens tussen 09:00 en 13:00, en slegs vir een of twee dae ná die eerste groot somerreën. Mannetjies kom in groepe bymekaar en roep vanuit die vlak water, sê Du Plessis.

Die brulpadda. Foto: Louis du Plessis.
Die brulpadda. Foto: Louis du Plessis.


Vir ‘n groot padda wat ongeveer 600–800 g weeg, is sy roep besonder sag en klink dit soos ‘n langgerekte “woooob”. Verskillende wyfies lê eiers in die vlak water, en ná twee dae broei duisende paddavissies uit om een groot skool te vorm, sê Du Plessis.
“Een mannetjie bly by die paddavissies en sal nie skroom om na ‘n indringer te hap nie,” voeg Du Plessis by.


‘n Tweede padda wat maklik met die brulpadda verwar kan word, is die rooirug skurwepadda. Hulle roep ook bedags, maar meer gereeld op effens bewolkte dae. Hulle roep terwyl hulle in die water dryf.


Die roep is soortgelyk aan dié van die brulpadda, maar harder en met ‘n nasale “mooo”-klank.

Schismaderma carens. Foto: Louis du Plessis.
Schismaderma carens. Foto: Louis du Plessis.


“Paddavissies vorm ook skole, maar in die vorm van sferiese balle in dieper water. Die swart massas kan so groot soos ‘n sokkerbal wees,” sê Du Plessis.

Die pragtige paddakoor in ‘n dam in die Parys-vleilandpark, waarvan daar die afgelope week op die Parys-vleilandpark se WhatsApp-groep melding gemaak is, behoort dus aan die rooirugskurwepaddas, oftewel Schismaderma carens.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button