Drie Vrystaatse munisipaliteite stel inhuldiging raadsvergaderings op die nippertjie uit
'n Duidelike tydsraamwerk is daargestel vir die finalisering en sitting van munisipale rade.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is nie die enigste munisipaliteit in die Fezile Dabi-distrik wat sy inhuldigingsraadsitting op die nippertjie moes uitstel nie. Soos Ngwathe sou die Mafube en Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteite Maandag hul inhuldigingsraadsvergaderings gehou het, maar is aldrie munisipaliteite se sittings van die nuut gekose rade uitgestel na Donderdag 26 November.
In ‘n kennisgewing van die Mafube munisipaliteit word die rede vir die uitstel van die vergadering toegeskryf aan tegniese oorwegings, terwyl die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit geen rede in sy kennisgewing gee nie.
Die Ngwathe munisipaliteit het aangedui dat die vergadering geherskeduleer word weens onvoorsiene omstandighede. Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha, het by navraag van Gazette bevestig dat partye nog besig is met onderhandelings.
Ingevolge die Munisipale Struktuurwet, moet munisipale bestuurders die eerste raadsvergadering byeen roep binne 14 dae nadat raadslede as gekose verklaar is met ‘n kennisgewing in die staatskoerant. Dit beteken voor 27 November het Mothamaha gesê, met die verkiesingsuitslae wat op 8 November amptelik deur die OVK verklaar is, en die kennisgewing in die staatskoerant wat op 12 November geplaas is.
Hoekom is die eerste raadsvergadering so belangrik ?
Volgens COGTA (Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake) is die eerste raadsvergadering een van die belangrikste stappe in die daarstel van funksionele plaaslike regerings.
- ‘n Speaker moet gekies word wat onder meer die taak het as voorsittende beampte by raadsvergaderings, wat toesien dat orde gehandhaaf en reëls nagekom word. So ‘n persoon is ‘n voltydse politieke ampsdraer wat ‘n salaris verdien.
- ‘n Burgemeester moet gekies word. In Ngwathe se geval sal dit nie meer ‘n uitvoerende burgemeester wees soos vantevore nie.
- Uitvoerende strukture moet saamgestel word.
- Die sogenaamde MPAC-komitee (Municipal Public Accounts Committee) moet saamgestel word. Die komitee speel ‘n belangrike oorsigrol ten opsigte van munisipale verantwoordbaarheid.
Waar koalisie gesprekke nog nie gefinaliseer is nie, word voorgeskryf deur die wet dat dié onderhandelings nie die vereiste prosesse wat verwag word by ‘n eerste raadsvergadering moet vertraag nie, het COGTA gesê.
Daar is benadruk dat munisipaliteite stabiele leierskap en effektiewe bestuurstrukture nodig het om dienslewering aan gemeenskappe te verseker.
Koalisies
Waar geen politieke party ‘n meerderheid in die munisipale raad het nie of te wel sogenaamde hang rade, soos ook in Ngwathe se geval, kan koalisiegesprekke nodig wees. Hierdie gesprekke moet egter binne die voorgeskrewe wetlike tydsraamwerk plaasvind. Ook hier is duidelike riglyne vir stabiele koalisies in plaaslike regering ten opsigte van samewerking, koalisie ooreenkomste, dispuut oplossings en institusionele stabiliteit.
Die spoedige en verantwoordelike afhandeling van hierdie gesprekke is nodig sodat die saamstel van munisipale rade afgehandel kan word en werksaamhede van rade kan begin ter wille van dienslewering aan die gemeenskappe wat deur die munisipaliteite bedien word.
Ngwathe raadsvergadering
Ngwathe se spesiale inhuldigingsraadsvergadering sal nou Donderdag 26 November om 10:00 by die Master Nakedi Sportsentrum in Tumahole gehou word, nadat die vergadering op aanbeveling van Cogta uitgestel is.
Partysetel verdeling
ANC – 10
DA – 8
ACT – 4
VF+ – 2
EFF – 2
SAKP – 1
Veertien setels is nodig om die meerderheid te kan hê in die Ngwathe Raad met sy 27 setels.




