Uit my dagboek: Pappa se kind: Die hande is nie veilig nie
Aiden sal maar moet sokker speel. Aiden en Harley Hy het ‘n goeie skopvoet, wat my laat dink hy kan dalk ’n sterk losskakel wees, maar sy hande wil nie saamwerk nie. Op die oomblik kan hy net nie vang nie, keer op keer tref die bal hom in die gesig of bons van sy …
Hy het ‘n goeie skopvoet, wat my laat dink hy kan dalk ’n sterk losskakel wees, maar sy hande wil nie saamwerk nie. Op die oomblik kan hy net nie vang nie, keer op keer tref die bal hom in die gesig of bons van sy bors af.
Naderhand raak hy moeg vir die speletjie wat hy nie regkry nie en hardloop in die huis in om sy sokkerbal te gaan haal.
“Dadda staan daar” kry ek die opdrag, dan laat waai hy met skop na skop. Ek mag ook nie vir hom terugskop nie. Hy jaag die bal voor hy weer vir homself skop. Ek moet bieg, sy rigting kort nog bietjie werk.
Alhoewel hy nog nie kan vang, reguit kan skop en sy eerste atletiekbyeenkoms ook maar so-so was, wys hy baie vroeë talent in boks en stoei. Hy moet nog die fyner nuanse van dié sportsoorte wysraak, maar hy weet al hy moet sy vuisies voor sy gesig hou wanneer hy boks. Hy het ook al die beweging na verskillende posisies in stoei redelik onder die knie. Hy raak egter nog deurmekaar met die name, omdat ons sommer albei gelyk speel. Hy sal sy vuisies bal en regstaan, dan roep hy my. “Dadda stoei” of ek sal op die mat lê, waarna hy op my sal neerval en skree: “Dadda boks”.
Ek help hom vinnig reg voor hy begin vuiste gooi of grepe op my oefen. Die grootste uitdaging is wanneer ek nie by die huis is nie en hy vir mamma wil stoei of boks. Sy hou nie regtig van die speletjies nie.