
Liewe Persoon
En so glo ek, soos die meeste van ons, dat ek op DIE DAG eerlik na myself in die spieël sal kan kyk, en sonder huiwer my waarheid sal spreek. Dat my glo en verstaan en weet op so ‘n wyse getem sou wees dat ek ‘n getuienis sal kon lewer oor dit wat was, wat is en waarvoor ek nog altyd hoop. Maar helaas.
Toe die koronavirus sy sit op my borskas kom kry, toe tuimel DIE DAG soos ‘n hoop gebruikte bakstene na benede. En so ook al die mooi en rein beloftes. En skielik is dit sommer net stowwerig en alleen. Waarvan die alleenheid sekerlik die ergste is… DIE DAG kom vroeër as wat ek dit te wagte was. Maar wat is die mens dan, herinner die Groot Boek my aan die mensdom se broosheid…se verganklikheid. Dis 06:00 op Maandag, 3 Mei 2021. Ek bekyk my bleekwit voorvinger en wonder vir ‘n oomblik of die deurklokkie by Ongevalle nie buite my bereik is nie. Ja, selfs op DIE DAG blyk ek ‘n aangetrokkenheid tot die dramatiese te hê… en soos ek voetstappe hoor nader kom, besluit ek dat ek nou my waarheid moet spreek…
My naam is Annette, ek is Covid+ en ek kry nie asem nie! Met dié het ek letterlik by Ongevalle se deur ingeval. Dit was Maandag, ‘n week gelede. En intussen het die lewe met my gebeur. Rondom my. Langs my. Teen ‘n snelle pas, terwyl ek by tye gewonder het of dit dan nou is hoe dinge gaan verloop. Moenie laat iemand jou vertel dat kovid ‘n walk in the park is nie, want dit is nie. Dit gaan oor meer as piesangbrood bak en sticky notes op die yskas se deur. Dié virus kom lê op jou bors soos ‘n trol van ouds, en stukkie-vir-stukkie kriewel hy die lewe uit jou are. Die asem uit jou longe. En meer nog: hy kom nessel ongeloof en kommer hier teen jou hartskamers.
Sê nou… Wat as?
En ja, die Covid mindset moenie onderskat word nie. Dit verteenwoordig ‘n tipe depressie waarvoor geen pilletjie sal help nie. So asof jou siel moedeloos word en 2021 maar liewers onder ‘n klip moes bly… Hierdie jaar is rof, laat ek jou vertel. Die Nuwe Jaar het soos oudergewoonte in ‘n blommetjiesrok op die voorstoep gepronk. ‘n Madeliefie in die hare. ‘n Rooierigheidtjie op die lippe. Ons was gelukkig. Ons het behoort. Februarie was nog nie eens ‘n gedagte nie, toe die Kanker dit begin vreet.
Jy maak nog planne en probeer tot verhaal kom, en dan – dan luister jy hoe die dominees vir Ma as ‘n pilaar van standvastigheid en hoop beskryf. Hoe sy getrou gebly het tot aan die bitter einde en hoe ander ‘n les uit haar lewensboek kan neem. Jy sit in die kerk en probeer om nie agter jou masker te vergaan nie. Jy probeer jou asemhaling so reguleer dat jy nie (al weer) aandag met jou gesanik trek nie. Jy probeer jou oë op so ‘n manier knyp dat die trane ophou om soos wegvoerwater jou wange rooi te vlek. En jy probeer jou kop regop hou. Regop sit. Konsentreer. Reaksie toon as iemand met jou praat.
Maar jou binneste is morsdood. Jou menswees voel vreemd en ongepas – amper soos daai ry koffieblikke op Ouma Dorp se stoep. ‘n Amperse gewoonte. Sy sou daagliks met haar rumatiekvinger voel of die grond droog is, wat dit dan wel was, en dan ‘n skootjie water bring. En so so sy die twee of vier blare aan die lewe hou vir eendag, wanneer dié steggie uiteindelik uitgeplant sou word… So gaan ‘n week in Saal C verby. Ek slaap, suig aan ‘n suurstofpyp en drink medisyne, alles in ‘n waas. Ek wonder oor die einde en hoe DIE DAG vir elkeen sal uitspeel. Ek is kwaad. Vir die Here. Vir die heelal. Ek wag tot dit donker word voordat ek my vuiste bal en my sugte die wêreld instuur. En die heeltyd dink ek aan drie dinge. Drie dinge wat ek behoort te onthou. Drie dinge wat my onteenseglik ek maak. En ek sukkel, want ek voel so leeg en ontsaglik alleen. Drie dinge is mos nie te veel nie? Hoekom is dit dan vir my so moeilik?
En dan, kom jy op ‘n plek waar jy nie anders kan as om te kruip nie. En so, op jou kniëë herinner die Here aan drie onteenseglike waarhede:
- Daar sal altyd iemand wees. Iemand om vir jou te bid. Iemand om vir jou lief te wees. Iemand om jou hand te vat. Moenie hierdie mense wegstoot nie, want hulle maak die lewe draagliker. Dit is mense wat KIES om by jou te wees. Glo in die goedheid van hierdie mense – al bal jy jou vuiste en protesteer jy heelhartig. Dit is jou sielsmense, en hulle is jou mense.
- Die mens sal oorkom. Ons het al elkeen genoeg geleef om te weet dat daar uitkoms sal kom. Dinge sal ok wees. En as dit nie ok is nie, dan is jou strepie nog nie getrek nie.
- Maak ‘n verskil. Sjoe. Hierdie is ‘n moeilike een. Maar dit is vir my die krux van alles: maak ‘n verskil. Wees die rede dat iemand ligter asemhaal. Ons het elkeen hierdie skat binne ons.
Wat is jou drie dinge?
Hier waar ek nou sit, het ek vir die eerste keer in maande vrede. Mag jou sekerheid jou ook dié genade van vrede skenk.