Atlete skitter met spog tye en afstande by kleuresport
Behalwe vir al die pret en skitterende tye en afstande wat aangeteken is, was daar ook tradisies eie aan die kleuresportbyeenkoms wat deel was van die dag.
Hoërskool Parys se pawiljoen was op 23 Januarie ‘n kleurvolle gesig van rooi en blou ondersteuners vir die skool se jaarlikse kleuresportbyeenkoms, en is daar geesdriftig geskree vir die onderskeie spanne se atlete.
Die byeenkoms was ook ‘n vertoonvenster van die talent van die skool se atlete met verskeie rekords en persoonlike beste tye en afstande wat behaal is.
By die velditems is veral skitterende prestasies in die spiesgooi- en diskusitems behaal.
Spiesgooi: Nuwelinge Inke Nortman en Joaquin Staats het beide persoonlike bestes van onderskeidelik 32.32m en 28.87m aangeteken.
Hoogspring: Vrystaat-kampioen, Heinrich Nortje (So/19), het sy staal gewys deur die dwarslat maklik op 1.85m skoon te spring.
Diskus: PC Steyn (So/15) het beïndruk met ‘n afstand van 32.42m.
Die baanitems was ewe opwindend, met atlete wat indruk-wekkende tye opgestel het:
100m: Ethan Litchfield (So/17) het ‘n blitsige 11:47 sekondes gehardloop.
400m: Nico Rust (So/19) het die afstand in 54:71 sekondes voltooi.
Die dag het egter nie net oor kompetisie gegaan nie, maar ook oor tradisie.
Die skool se graad 12-leerders het die baan aangedurf vir ‘n spesiale ererondte om hul laaste kleure-atletiekdag van hul hoërskoolloopbaan te vier.
‘n Totaal van 182 atlete van Hoërskool Parys het ook op 28 Januarie aan die Parys Zone atletiekbyeenkoms deelgeneem.
Vrydag sal 90 atlete van die skool aan ‘n vriendskaplike byeenkoms in Fochville deelneem en wens ons elkeen van die atlete sterkte toe.
Hier is enkele foto’s wat die aksie van die dag weergee.
(Foto-erkenning: Ferdie Jordaan, Liezl Scheepers & Hoërskool Parys)















