Entertainment

Rooiwyn, goeie vriende en musiek

Lanka Stols, Jan Nieman en Shaun Frazao is drie vriende wat oorspronklik begin het as ‘n kerkorkes en toe op ‘n dag besluit het hulle kan net sowel hulle passie vir musiek verder vat en ‘n band begin wat nie net gospel doen nie, maar sommer ‘n mengsel van nuwe musiek en klassieke treffers.

JP Myburg | Potchefstroom Herald

Lanka Stols, Jan Nieman en Shaun Frazao is drie vriende wat oorspronklik begin het as ‘n kerkorkes en toe op ‘n dag besluit het hulle kan net sowel hulle passie vir musiek verder vat en ‘n band begin wat nie net gospel doen nie, maar sommer ‘n mengsel van nuwe musiek en klassieke treffers.
Red Wine Acoustics is toe die konsep wat uit die idee gebore is en word toe ‘n orkes wat deesdae oral te sien is in en rondom Potchefstroom.
“Ons is verheug oor die ondersteuning wat ons kry van gereelde aanhangers en mense wat na ‘n optrede ons sal voorkeer en positiewe kommentaar sal gee,” sê tromspeler en sanger, Shaun Frazao.
Aardklop het ook vanjaar die platform gegee vir plaaslike talent om te kan wys wat alles hier in Potch aangaan. “Ons het shows gehad by die Snowflake mark en in die Klein-Cachet-teater wat baie goed gedoen het, wel baie beter as wat ons verwag het,” spot Jan Nieman. Red Wine Acoustics beplan ook om ‘n album uit te reik voor die einde van jaar wat ‘n mengsel van nuwe komposisies sal wees en die gewone musiek wat die groep altyd sal doen. Pianis en sangeres, Lanka Stols sê dat hierdie groep wat al byna twee jaar oud is, baie sterk bande het wat gevorm is deur musiek, goeie rooiwyn en ‘n baie liefdevolle vriendskap. “Ons tree op in verskeie plekke in Noordwes en Gauteng en doen funksies, troues, optredes by restaurante of markte, letterlik enige iets.”
Jan is ‘n M-student in farmaseutika, Shaun werk vir ‘n kommunikasie-firma in Johannesburg en Lanka is ‘n voltydse musikant in Potchefstroom. Jan speel bykans alle instrumente, van akoesties kitaar, bas-kitaar, elektriese kitaar tot selfs die ukulele. “Mense wat na ons show kom kyk kan verseker wees ons doen nie net dieselfde ding vir ‘n uur oor-en-oor nie, ons probeer mense verras en ons setlys heeltyd te verander en te vernuwe,” voeg Shaun by.
Red Wine Acoustics kan gevind word op Facebook en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button