Molen Kórus Kamerkoorfees 2025 bring fees van koorklanke
Gedurende die Wêreldkoorspele in 2018 word die koor as wenner van drie kategorieë aangewys.
Molen Kórus bied met trots weer hul fees van koorklanke in Potchefstroom aan. Hierdie jaar kan die gehoor uitsien na ’n inspirerende aand met kore uit Potchefstroom, Vredefort en Johannesburg.
Kore wat deel van die program is sluit in Laudum Dei Kamerkoor (Randburg), Deo Gloria (Vredefort) en Molen Kórus (Potchefstroom). Die geleentheid vind op 8 November om 18:00 by NG Kerk Potchefsrtoom-Noord plaas.
Molen Kórus, ‘n kamerkoor in die Potchefstroom omgewing, is in 2011 gestig onder die leiding van Loretté du Toit en Kobus Venter. Die naam van die koor is afgelei van die beroemde straat in die hartjie van Potchefstroom waar die koor weekliks oefen. Die koor bestaan hoofsaaklik uit nagraadse studente en lede van die gemeenskap rondom Potchefstroom, almal met ‘n liefde vir musiek en veral koormusiek.
Die koor streef na musikale uitnemendheid en lede word gekies om voortdurend ‘n hoë standaard van koorsang te behaal. Die koor tree op by baie koorfeeste/geleenthede. Die koor is aangekondig as wenners in die kategorie Kamerkore, sowel as algehele wenners van die ATKV – Internasionale Animato-koorkompetisie in 2015. In 2016 het die koor ook opgetree by Aardklop.
Gedurende die Wêreldkoorspele in 2018 word die koor as wenner van drie kategorieë aangewys. Molen Kórus het in 2025 al talle kere opgetree en gaan ook nog ‘n paar optredes hou die res van die jaar. Hoogtepunte van hul optredes vanjaar sluit in ‘n Paasfeesdiens in April, ‘n Moedersdagkonsert in Mei, die Legato Koorfees in Pretoria, waar hulle ook benoem is vir ‘n toekenning – die Musica! Molen Kórus nooi lesers – “Kom SING saam! Ons hou ook weer oudisies vir 2026 op 12 November.”
Belangstellendes kan gerus hul sosiale media bladsye besoek vir meer inligting, of met een van hul lede gesels na die konsert.



