Wanneer laas het jy jou aftredeplan hersien?
Verskeie navorsing oor die jare toon dat sowat 6% van Suid-Afrikaners finansieël onafhanklik kan aftree.

Verskeie navorsing oor die jare toon dat sowat 6% van Suid-Afrikaners finansieël onafhanklik kan aftree.
Daar word baie keer genoem dat as jy 30 tot 40 jaar getrou bygedra het tot ‘n pensioenfonds, jou pensioen slegs sowat 75% van jou finale salaris sal beloop. Ongelukkig is die realiteit dat dit nog moeiliker is vir besigheidseienaars, professionele en ander persone wat nie verplig is om maandeliks by te dra tot ‘n pensioenfonds nie. Dis eenvoudig moeiliker vir die persone om geld weg te sit vir aftrede as die geld reeds in hulle bankrekening is, om nie eers te praat van die feit dat meeste van hulle al hulle surplus geld herbelê in die besigheid nie. Ongelukkig is daar talle voorbeelde waar die gebruik om jou eiers in een mandjie te plaas tot groot kommer by aftrede gelei het. Wat gebeur indien ‘n kind met die besigheid wil voortgaan (dink aan boerdery) en dit dus nie verkoop kan word vir aftrede kapitaal nie? Dan is daar ook die moontlikheid dat ‘n suksesvolle besigheid naby aan aftrede kan ondergaan weens faktore buite die eienaar se beheer. Waar daar meer as een eienaar is, word sake ook bemoeilik ten einde kapitaal vir aftrede te ontsluit.
Bo dit alles leef ons in 2019 ook in onseker ekonomiese en politieke omstandighede en is dit dus geen verrassing dat baie mense voos is nie. Ons is in die vyfde jaar van lae opbrengste op beleggings wat meeste persone wat aftrede nader of reeds afgetree het, moedeloos het. Hoe beplan ek as alles so onvoorspelbaar is? Hoe verseker ek dat my aftrede kapitaal ‘n volhoubare inkomste sal lewer? Waar en hoe belê ek my aftrede geld?
Hierdie bekommernisse en meer sal deur Jenwil Blouster saam met ander instansies tydens die vierde jaarlikse aftrede kongres op 11 April aangespreek word. Die vol program vir die aand sluit in: finansiële beplanning voor- en na aftrede; testamente en boedelbeplanning (aangebied deur Conrad Butler); liggaamlike- en geestelike gesondheid (aangebied deur prof. Leoné Malan en dr. Sanet Jansen van Rensburg) en beleggingskeuses voor- en by aftrede (aangebied deur Rocco Carr van Glacier). Rocco gee ook aandag aan wat om te maak as jy aan die GEPF behoort.
Daar is verder ook ‘n paneelbespreking deur Coronation en Obsidian rondom die huidige beleggingsmark. Die kongres vind plaas by die de Land Estate waar gaste eerstehands die versorgingseenheid kan waarneem en ook kan hoor wat Engel en Völkers sê oor die keuse van ‘n aftrede woning. Verlede jaar het meer as 60 persone baat gevind by die kongres en het bywoners opgemerk: “Ek het die balans, standaard, trant en toon van die kongres baie geniet” en “baie dankie vir ‘n fantastiese seminaar.”
Alhoewel die sessie gratis is, is bespreking voor 9 April belangrik. Stuur ‘n e-pos na potch@jenwil.co.za of skakel Susan by 082 048 6309.



