AfriForum maak gehalte van water bekend
Inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp kan gerus wees dat hul drinkwater nog aan die minimum standaarde voldoen en dat dit geen skadelike bakterieë bevat nie, aldus die verslag van AfriForum wat vanjaar verskeie dorpe in die Noordwes se water getoets het.
Inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp kan gerus wees dat hul drinkwater nog aan die minimum standaarde voldoen en dat dit geen skadelike bakterieë bevat nie, aldus die verslag van AfriForum wat vanjaar verskeie dorpe in die Noordwes se water getoets het.
Dié burgerregteorganisasie het nie net die gehalte van die drinkwater (bloudruppelstatus) getoets nie maar ook die rioolwater (groendruppelstatus).
“Ons kon vasstel dat die meeste van Noordwes se dorpe se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. Daar was enkele dorpe waarvan die nitraatvlakke in die drinkwater effens hoog was, maar die probleem is onder die loep geneem. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets, want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
Ongelukkig voldoen 21 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie. Potchefstroom en Ventersdorp is hierby ingesluit. Slegs Mooinooi, Wolmaransstad en Zee-rust se verslae is skoon. Hieroor het AfriForum sy kommer uitgespreek. “Ons sal die nienakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. “Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sê Coetzee.
AfriForum versoek elke jaar dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) weer ’n blou-en-groendruppelverslag bekend maak. Hulle verwelkom dus dat die Departement vroeër vanjaar bekend gemaak het dat hulle weer die blou-en-groen-druppelverslag gaan opstel om sowel die waterkwaliteit as infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal. Hulle sal sodra die Departement hulle verslag bekend maak dit noukeurig deurwerk en moniteer.
Volgens AfriForum kon die DWS, as die bewaarder van water, nie hulle verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. “Dit is van kardinale belang dat ons nie ophou om die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets nie. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm,” sê Pretorius.
AfriForum versoek inwoners van Noordwes om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer. SMS “Skoon water” na 45344 (R1) en steun hierdie aksie.




