Beesvleispryse sal nie sommer volgende jaar styg sê kenners
Boere met speelkalwers het vanjaar stewige winste gemaak, maar hulle insetkoste gaan volgende jaar styg.
Volgens Netwerk24 het boere met speelkalwers vanjaar stewige winste gemaak. Na jare se droogte en swaarkry was daar minder speenkalwers in die bedryf. Roelie van Reenen van die Beefmaster-groep het ook bevestig dat boere uiteindelik na sewe jaar se droogte finansiële resultate gekry het. Hy waarsku egter dat insetkose, soos veevoer, in 2022 drasties gaan styg en voorspel dat die bedryf ‘n moeilike jaar kan verwag.
“As gevolg van die hoër aanbod van speenkalwers wat nou verwag word, sal die waarde van kalwers ook daal. As boere se oorhoofse koste dus vas is, gaan meer wins nodig wees om dit te dek. En die enigste manier om dit te doen, is om kuddes te vergroot”, sê Van Reenen.
Prof. Johan Willemse, ‘n landbou-ekonoom, sê die pryse wat beesboere nou kry, word op vraag-en-aanboed geskoei en nie op hul koste nie. Hy verwag nie dat die beesvleispryse sommer sal styg nie. “Indien die eknonomie stadiger groei in 2022 en werkloosheid styg, daal verbruikers se koopkrag en pryse word so afgedruk”, het hy aan Netwerk24 verduidelik.
Willemse sê dat aanvraag pryse dryf. Verbruikers kan wel verwag om meer vir hul steak oor die feestyd te betaal soos wat mense meer vleis vir hul Kersete koop. Van Reenen sê dit sal vir boere wys wees om nou konserwatief te begin dink en versigtig op te tree deur nou al daarvoor voorsiening te maak. “Die waarde van diere wat vir produksie bestem is, kan heel moontlik afneem. Die kans is baie goed dat dit in 2022 duurder gaan wees om beesvleisprodukte aan die mark te verskaf.”
Hy sê die opwaartse neiging in die koste van roumateriaal beteken dat toerusting veervoer, brandstof en alledaagse produkte al hoe duurder gaan word.



