Voor Lana Labuschagne (92) op 1 Desember 2021 oorlede is, was sy die laaste oorlewende lid van ’n groep Dorslandtrekkers wat in 1928 uit Angola teruggekeer het.
Trouens, Lana is op die trekpad terug op ’n ossewa iewers in Angola op 18 Julie 1928 gebore. Die Dorslandtrekkers was diverse groepe wat oor ’n tydperk van dekades verskillende gebiede in veral die Transvaal na Angola getrek het om daar te vestig.
Die naam “Dorslandtrekkers” het hulle gekry weens die ontberinge wat hulle op die trekpad ervaar het. Die populêre reisverhaalskrywer Lawrence Green het die Dorslandtrek beskryf as “the most painful chapter in the whole history of the Afrikaner race.”
Lana, ’n nooi De Jager, se voorsate het in 1875 uit die Rustenburg-distrik na Angola getrek en nes talle ander hulle op die waterryke Humpata Hoogland tuisgemaak.
Droogte, ’n verswakkende verhouding met die Portugese owerhede in Angola en Portugese setlaars het dié groep oorreed om in 1928 terug te keer. Die De Jager-familie se nuwe tuiste was ’n plaas in die Gobabis-distrik in Namibië. Lana se jonger broer, Nico, woon nog steeds daar.

Sy is op 1 Desember 1950, presies 71 jaar voor die dag wat sy oorlede is, met Kenneth Labuschagne getroud. Hulle was albei klerke in ’n bank op Gobabis. Kenneth was later bankbestuurder en het in dié hoedanigheid van Gobabis na Volksrust in die Transvaal getrek.
Hulle het sowat 30 jaar gelede in Potchefstroom kom woon waar hy as bankbestuurder afgetree het. Kenneth is in 2015 oorlede.
Lana het enkele dae voor haar dood ’n hartaanval gehad en is in die Mooimed-hospitaal oorlede. Sy word oorleef deur haar broer, Nico, vyf seuns, twaalf kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
Die troosdiens het Donderdag 9 Desember in die Gereformeerde Kerk, Potchefstroom-Oos plaasgevind.



