42 Dae en 42 nagte van voëls kyk
Die lede van BirdLife het die toer terdeë geniet.

Lede van BirdLife, ‘n voëlklub in Potchefstroom, het op 27 Maart 2024 uitgespan en op ‘n opwindende 42 dag en 42 nag voëlkyktoer gegaan.
Die toer het in Potchefstroom begin waarna daar na Francistown, Kasane, Katima Mulilo, Rundu, die Epupavalle, Etosha, die Brandberge, Walvisbaai en tot in Windhoek en weer terug na Potchefstroom gereis is. Die totale afstand van die toer was 7421km.
Johan Nel het ‘n fantastiese toerplan opgestel met die doel om spesifieke voëlspesies in Botswana en Namibië te gaan soek. Die beplanning was ‘n akkurate dag tot dag uiteensetting met volledige kleurkaarte, roetes en koördinate.
Corrie Venter het 316 voëlspesies in Namibië en 210 spesies in Botswana gelys. Sy het ook ‘n totaal van 34 vol protokolkaarte en 7 adhock kaarte na SABAP2 ingestuur.
Vir die toerlede was hierdie toer verseker ‘n groot sukses gewees. Gemeet aan die getal “lifers” wat elkeen afgemerk het, het hulle beslis ‘n voëlparadys besoek. So spog Marie Jacobs met 16 nuwe voëls, Frik Jacobs met 17, Lawren en Marietha Oelofse elk met 31, Alet Steyn met 43 en Corrie met 40 nuwe voëlspesies. Johan kon ook verskeie voëlspesies vir die eerste keer in hul broeigewaad mooi afneem. Ongelukkig of gelukkig is daar nog tenminste 14 voëlspesies in die gebied uitstaande vir ‘n volgende voëltoer.
Johan, Lawren en Alet wys met trots pragtige voëlfotos en vertel met geesdrif hoe hulle die voëls opgespoor en toe afgeneem het. Van die besondere voëls is ondere die volgende:
- Gestreepte vleiloerie
- Swartwangkatlagter
- Olyfbyvreter
- Rotsvoël
- Duinelewerik
Natuurlik het elke toer ook sy uitdagings en onbeplande gebeure wat plaasvind. Batterye wat onklaar raak, pap wiele, herstelwerk aan voertuie, gebreekte ruite en dan is daar ook die verhaal en stories van “Noag” die boswa. Noag het so stuk-stuk op die toer agtergebly, bande gebars en later sy as gebreek. Nadat alle nodige herstelwerk gedoen was, is die toer met dankbaarheid, die eerste week van Mei-maand voltooi.