Local newsNewsNews

Babalela laat jongspan skater by Aardklop

Die diere is helder poppekas-poppe wat lewendig word in die poppemeesters se hande.

Diep diep in ‘n donker bos bly daar ‘n Babalela in ‘n uitgeholde boomstomp met ‘n blaar as kombers.

Babalela bly saam Meermoskat, Knortand, Potifant, Wrrumpie, en die rasende Fripperwakkies diep, diep in die donker bos.

Op eerste oogopslag kom Babalela voor as ‘n woedende diertjie. “Ek is ‘n Babalela, los my uit!” is immers die woorde waarvoor Babalela bekend is. Op nadere ondersoek is Babalela ‘n lui diertjie wat lief is vir slaap, bessies eet, vrede, en sy vriende. Natuurlik in daardie volgorde.

Meermoskat is ‘n liewe diertjie wat sy nuuskierigheid nie kan wegsteek nie. Die Fripperwakkies is kekkelbekke en bly nie vir ‘n oomblik stil nie. Potifant is meer pote as Olifant, en besit nie Olifante se kenmerkende sagte, versigtige tred nie.

Sy swaar voete kry hom gereeld in die moeilikheid by die Fripperwakkies. Wrrumpie is ‘n hiper-aktiewe karakter wat meeste van sy dag spandeer om Knortand uit te tart, en dan agter Babalela weg te kruip wanneer Knortand wraak soek. Knortand is presies dit. Knorrig. Hy probeer alom Wrrumpie vang vir sy streke. Meermoskat is die enigste een wat Knortand rustig kan hou.

Die vriende raak gereeld aan die stry en dan moet Babalela bontstaan om die vrede te bewaar. Wanneer die bosdiere ‘n tog aanpak stad toe op die kriewelende Wrrumpie se voorstel, is dit Babalela wat sy middagslapie opoffer om sy vriende te gaan red.

Die toneel word teen pragtig geverfde verhoogstukke aangebied. Die diere is helder poppekas-poppe wat lewendig word in die poppemeesters se hande.

Dit word interaktief aangebied en jou kinders sal meegevoer raak deur die karakters. Die produksie is van baie hoë gehalte en sal die hele gesin interesseer.

Martin Visagie en Stefanie Coetzee het die produksie gate uit geniet. Stefanie het saam met Babalela gedans.

Babalela word in Girls High Skoolsaal aangebied en kan op Donderdag, 5 Oktober om 09:00 gesien word.

Die speeltyd is 45 minute en kaartjies kos R 100 op ticketpros.co.za.

 

Related Articles

 
Back to top button