Promosa inwoners moeg vir riool en geen dienslewering
"Die riool is oral oor die gras en in die straat. Hier is ‘n kind in die erf wat nooit kan buite speel nie," Carmen Smith, 'n inwoner in Promosa.
Met die eerste oogopslag lyk en ruik dit asof die riool in Promosa regeer. By nadere ondersoek word dit duidelik dat die riool waarmee inwoners daagliks moet saamleef, hul lewenskwaliteit versleg.
Stanlystraat, wat een van die laagste punte in Promosa is, ly swaar onder riool wat opborrel in inwoners se erwe en in die straat afloop.
Die Herald het Stanlystraat twee weke gelede besoek en dit wil voorkom asof die toestand vererger het. Die watervlak in die erwe lê hoër, die gras vrek en die deure en vensters word dig gehou. Die reuk hang swaarder in die lug en die alge in die riool wat in die pad afloop, het aansienlik toegeneem.

Samuel Goliath, ‘n pensioenaris, het aan die Herald genoem dat indien jy ‘n waterlek in jou erf het, dit jou waterrekening die hoogte in laat skiet.
Patricia Howard, nog ‘n Stanlystraat inwoner, is ‘n pensioenaris wat alleen woon. Haar buitehek is permanent toe met lang gras waaruit die riool spruit. “Omdat ek alleen bly, is daar niemand wat my kan help om dit skoon te maak
nie,” sê Patricia en wys na die stukkies toiletpapier en allerlei wat oor haar erf die straat inloop. “Hoe lank gaan ons so lewe?” vra ‘n raadop Patricia.

Carmen Smith voeg by dat kinders in die huise gehou moet word en nie buite kan speel nie.
“Die riool is oral oor die gras en in die straat. Hier is ‘n kind in die erf wat nooit kan buite speel nie. Ons rapporteer dit, ons was nou al koerant toe. Wat meer moet ons doen om hulp te kry?” vra Carmen. Dit lyk nie of die munisipaliteit omgee vir Promosa as hul nie eers
pensioenarisse kan help
nie.”

Carmen vra moedeloos of daar dan nie ‘n privaat loodgieter gehuur kan word om die probleem op te los nie, en voeg by dat Promosa-inwoners moeg raak vir die munisipaliteit.
“Ons nooi die burgemeester om saam met ons te kom tee drink,” sê Carmen oplaas. Hierdie riooloorstromings in Stanlystraat is al vir byna twee maande ‘n probleem.
* Geen kommentaar is teen die Herald se druktyd van die munisipaliteit ontvang nie.



