Local news

Ferdies onderwyser kyk terug op 38 jaar van skoolhou

“So min mense kan dit sê, maar ek kan eerlik sê dat nie een dag van my 38 jaar sleg was nie,” merk Annette Stander, oud-onderwyser van Ferdies op.

Mev. Annette Stander wat vir 18 jaar van haar onderwysloopbaan by Hoërskool Ferdinand Postma skoolgehou het, het onlangs afgetree.
Vir mev. Stander is dit die einde van ‘n era na 38 jaar van skoolhou. Sy het wiskunde gegee en het die laaste jaar as hoof by Ferdies afgelos.
“Ek mis hulle hoor,” verwys ‘n emosionele mev. Stander na die personeel en leerders van Ferdies.
“Ek sal Ferdies altyd onthou vir hoe die skool as familie saamgewerk het. Dis iets wat ander skole nie ken nie. In al my jare as onderwyser was Ferdies die enigste plek waar ek dit so ervaar het,” vertel sy.
Haar liefde vir skoolhou en kinders en haar lojaliteit teenoor Ferdies straal uit terwyl sy terugkyk op haar loopbaan.

Annette lui die klok by Ferdies om haar skoolgee loopbaan af te sluit. Foto: Verskaf.

“Ek het my eerste jaar as onderwyser by Ferdies skoolgehou. Ek het wiskunde en Afrikaans aangebied.” Mev. Stander vertel dat sy die jaar daarna by Boys High gaan skoolhou het. “Dit was ongelooflik, ek het dit baie geniet.” Haar man het in ‘n myn in Carletonville gaan werk, waarna hulle na Carletonville verhuis het. “Ek het vir ses maande daar skoolgehou en toe ons kinders gebore is, het ek saam met hulle by die huis gebly.” Mev. Stander onthou dat sy in daardie tyd haar honneursgraad gedoen het en terselftertyd aandklasse en ander klasse vir volwassenes aangebied het. “Daarna het ek vir 10 jaar vir gr. 2-leerders skoolgehou.
Ek het aanvanklik die pos gevat omdat dit prakties was, maar dit was op die ou einde die lekkerste ding in die wêreld. Dit was ongelooflik om te sien dat daai ou goedjies (gr. 2-leerders) nog soos sponse is. Hulle is nog nie bang vir wiskunde nie en het dit baie geniet.”
Daarna het die Standers in Ferdies se koshuis ingetrek en Annette het vir twee kwartale by Promosa Sekondêr skoolgehou.
“Ek het gewag vir ‘n pos by Ferdies,” vertel sy met ‘n glans in haar oë. “Op ‘n stadium, nadat ek reeds ‘n wyle by Ferdies was, is ek ‘n pos aangebied wat my twee posvlakke hoër sou vat. Ek het doodeenvoudig nee gesê want ek kon net nie weg by Ferdies nie.
“So min mense kan dit sê, maar ek kan eerlik sê dat nie een dag van my 38 jaar sleg was nie,” merk sy op met trane in haar oë. “Ek wens vir almal om so te kan voel oor hul werk.”

Anette Stander en Ferdies se uitvoerende komitee. Foto: Verskaf.

Sy het die volgende wysheid om met ander onderwysers te deel. “Elke kind kan elke dag klein bietjie beter wees, maar hul weet dit nie.
“Dis waarvoor onderwysers daar is, om kinders te help om daardie klein bietjie beter te word. Onderwysers moet kan huis toe gaan en sê: ‘Ek’t nie op kinders opgegee vandag nie. Ek’t kind vir kind nie opgegee nie.’ In daardie 40 minute wat jy hulle by jou het is dit jou roeping, verwag jou Vader van jou om daardie kind se dag beter te maak,” sê sy met passie.
“Kinders is die beste lyftaal-lesers in die wêreld. As personeel met glimalgte uit ‘n personeelkamer stap, maak dit die wêreld se verskil in ‘n skool. ‘n Skool se sukses word gemeet aan die breedte van die kinders se glimlagte.”
Mev. Stander vertel dat die hoogtepunt van haar loopbaan by Ferdies 2020 is.
“Nie een van ons het ‘n manual gekry vir daardie jaar nie, ons het net gehoor ‘woeps hier gaat jy, die skool maak toe’. Wat vir my uitgestaan het, is hoe onderwysers wat skaars op hul selfone kon werk, skielik Google klaskamers oopgemaak het en elke dag by hul leerders opgevolg het. “Ons het geen inhoud uitgelaat nie. Ons moes al hierdie op afstand doen, en selfs so het Ferdies se personeel se band gesorg dat almal regkom met alles en dat alles uitwerk.
“‘n Mens kan nie ‘n dag laat vermors nie, jy moet elke dag die krag wat die Here jou gegee het, gebruik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button