Local news

Gebreekte asblikke het Van der Hoffpark inwoners boos

Die aslorrie wat vullis in VanderHoff-park oplaai het weens 'n malfunksie asblikke in die omgewing begin breek.

‘n Inwoner in Pieter de Villiersstraat, Julian van der Lith, het aan die Herald vertel dat munisipale asblikke in Van der Hoffpark deur die vullistrok wat vullisverwydering in die omgewing doen, beskadig word.
“Verskeie plastiekdromme is die afgelope drie weke deur die vullistrok tydens die leegmaakproses gebreek,” sê Julian.
“Die drom hang moontlik skeef of druk iewers vas, want daar is elke keer ‘n harde slag wanneer die dromme breek.”
Julian vertel verder dat baie inwoners in die omgewing ongelukkig is oor die gebreekte plastiekdromme. “Ons het dit al aan die munisipaliteit probeer rapporteer, maar niemand antwoord hul telefone nie,” voeg ‘n moedelose Julian by. “’n Nuwe drom kos meer as R1 000. Die munisipaliteit gaan self hierdie dromme moet vervang.”

Die kraak in die asblik kan hier gesien word. Foto: Verskaf.

Die J.B. Marks munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite het aangevoer dat die plastiekdromme dikwels beskadig word wanneer meganismes in die vullistrok wat die dromme moet oplig, foutief is.
“Die situasie word gemonitor en ons werkers is ingelig om die vullistrokke dop te hou sodat skade verminder kan word,” noem Tshite.

Related Articles

 
Back to top button