Local news

Witwarm NWU netbalster volhard in haar droom

Uit die warm gedeeltes van Upington, Keimoes, Kakamas kom die Proteas o.21 ster, Sanmarie Visser om die baan aan die brand vir haar land te speel.

Op die hoek van Ds. Aubrey Beukes-rylaan en Jan de Klerk-weg in die buurt Oosterville, pronk die woorde: ‘Volhard en Oorwin’. Dít is die leuse wat leerders van Hoërskool Duineveld in die snikhete Upington daagliks sien. Dít is wat die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sanmarie Visser daagliks op die netbalbaan doen.

Van Keimoes tot Upington waar sy in 2021 gematrikuleer het, van die Noord-Kaap tot Potchefstroom in die Noordwes waar sy ‘n derdejaar B.Com-bemarkingstudent by die NWU is. Van ‘n diskusgooiatleet tot die 2023 Varsity Netbal se Speler van die Toernooi. En, nou is sy aangewys as die beste verdediger tydens die Afrika Kwalifiserende Rondes vir die 2025 Netbal Wêreld Jeugbeker. Volhard en oorwin.

“Baie min mense weet dit van my,” vertel sy oor haar diskuswortels. Dit is in hierdie sportsoort waar sy ‘n beurs by die NWU losgeslaan het, maar het “op die nippertjie” besluit om haar netbaldroom na te jaag. “My hart het by netbal gelê.”

Die universiteit het haar tegemoet gekom en nou pluk beide die vrugte van dié besluit: “Ek kan nie meer dankbaar vir die universiteit wees nie. As die nie vir die NWU was nie, het my paadjie nie so uitgedraai nie.”

Sy het in ‘n baie sportiewe gesin grootgeword, verduidelik sy. Pa en Ma was altyd lief vir rugby gewees. “In graad 1 het ek vir die skool se E-span netbal gespeel. Darem het dit toe begin beter gaan,” spot sy. Sy het hard gewerk, ‘n liefde ontwikkel om saam met haar vriendinne te speel.

“Vir mekaar te speel. Die saamkom by toernooie. Mens bou op die netbalbaan ‘n familie en daai vriende bly altyd met mens.”

Sanmarie Visser in aksie vir die NWU tydens die Varsity Netbaltoernooi in 2023. Foto: Varsity Sport/ASEM Engage.

E-span, nogal? En wie sou ooit kon dink dat sy eers in 2022 die onbekende posisie van hulpdoelverdediger begin speel het? Want, verlede jaar roep haar foon haar…

“Varsity Netbal het het ‘n boodskap uitgestuur om te sê watter drie spelers genomineer is as die Speler van die Toernooi. Ek het nooit in my wildste drome gedink dit sal ek wees nie, dit was klaar so ‘n groot voorreg om net genomineer te word.”

Later roep haar foon weer. Daar is groot nuus om te deel: “Die dag toe ek die oproep kry om te hoor dat ek as Speler van die Toernooi aangewys is, sjoe, dit is ‘n droom wat waar geword het. Jy werk so hard en om dan daardie erkenning te kry. Ek kan net dankie sê vir almal soos my vriende, familie, afrigters en ondersteuners wat agter my gestaan het, want ek het dit vir seker nie op my eie reggekry nie. Dit is vir almal wat daar was deur die moeilike tye.”

Vir haar is dit netbal, heeldag, elke dag, twenty-four-seven.

“Netbal gaan oor die span waarin jy speel, die ervaring wat jy opdoen, die mens wat jy word. Jy leer om druk te hanteer, dit te verwerk en onder druk te presteer. Dit maak jou wie jy is,” sê sy.

Sy het reeds vanjaar haar staal vir die junior Proteas gewys, daar is ‘n Varsity Netbalreeks wat wink, vanjaar help sy om die vrouekoshuis, Wanda, se netbalspan af te rig en moenie van die studies vergeet nie.

Dit is baie hooi op die vurk vir hierdie nooi van die noorde. Sy lag wanneer daar na haar herkoms verwys word: “Daai wêreld is verskriklik hard. Upington, Keimoes, Kakamas. Dit is ongelooflik warm. Mense wil nie graag weer daai plekke besoek nie. Dit het tot my voordeel getel. Ek dink nie ek kan vir enige iemand beskryf hoe dit moet voel om ’n 10 km in Upington se hitte te hardloop nie. Maar dit maak jou sterk. Dit leer jou karakter. Dit gee jou karakter. Dit het tot my sukses bygedra.”

Dit het haar geleer om te volhard. En te oorwin.

Related Articles

Back to top button