Woede kook oor in Promosa nadat stemgetalle glo nie ooreenstem
Volgens wykskandidate van verskeie politieke partye is daar boonop drie stemboekies, elk met 100 stembriewe, wat vermis word.
Die gemoedere loop hoog in wyk 21 in Promosa, Potchefstroom, waar raadslede en lede van die gemeenskap ontevrede is oor verskeie ongerymdhede tydens die munisipale verkiesing. Die grootste bron van kommer is dat die aantal stemme wat getel is, nie met die oorspronklike kieserslys ooreenstem nie.
Volgens raadslede van verskeie politieke partye is daar boonop drie stemboekies, elk met 100 stembriewe, wat vermis word.
Een van die stemboekies is glo tydens die tweede telling opgespoor, maar die ander twee is steeds soek.
Wykskandidate sê hulle het die hele nag wakker gebly om die telproses dop te hou. Hulle moet steeds tydens die hertelling teenwoordig wees en is volgens hulle reeds uitgeput ná ure se onsekerheid en spanning.
In ‘n stadium het lede van een van die politieke partye glo hul verteenwoordigers uit die saal onttrek in ‘n poging om die hertellingproses te laat staak. Die proses het egter voortgegaan.
Daar was ook ‘n onderonsie met die polisie nadat partylede glo toegang tot die saal geweier is.
Die situasie het tot toenemende frustrasie onder raadslede en inwoners gelei. Sommige lede van die gemeenskap meen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) probeer die kwessie onder die mat invee.
Natasja Barends, ActionSA wykskandidaat van wyk 21, verduidelik wat volgens haar tydens die verkiesings- en telproses gebeur het, waarom die hertelling nodig is en waarom raadslede en inwoners so ontstoke is.
“Daar is eers 11 uur gisteraand begin tel. Die proses was baie deurmekaar. Daar was geen metode nie, almal het net oral getel. Dit is vreeslik om kontrole so daaroor te hou.”
Die Potchefstroom Herald het die OVK vir kommentaar genader. Die OVK het egter aangedui dat hulle eers ná afloop van die hertelling op die navraag sal reageer.
Die uitslag en die kwessies rondom die stemtelling word dus met groot belangstelling deur die gemeenskap dopgehou.



