Pa’s en seuns maak ligte werk om PCC se besigheidsrolbal-titel in te palm
Die vierman pa-en-seun span van Werkman Engineering het kragte met De Villiers Prokureurs se Span 1 gemeet.
Daar was vreugde in die lug vir die pa- en seunspan van Werkman Engineering. Dit nadat hulle met puik spel die Platinumliga as die beste rolbalspan in die PCC Bowls Business League rolbalkompetisie gewen het. Dit is op Dinsdagaand, 19 Maart gespeel.
Die vierman pa-en-seun span van Werkman Engineering het kragte gemeet met De Villiers Prokureurs se Span 1, en het gou gewys dat hulle beslis ‘n span is waarmee daar rekening gehou moet word. Die twee spanne het teen mekaar meegeding om die Platinum League trofeë wat reeds 15 Februarie met 12 spanne begin het.
Die spanning het hoog geloop tydens die kompetisie en Etienne Erasmus sr. het erken dat dit ‘n noue wen is, aangesien hulle op ‘n stadium met 6 punte agter was. Maar die pa-en-seun span het nie op hulle laat wag nie en gewys waar hul staal sit toe hulle met ‘n 13-10 eindtelling en die trofeë weggestap het.

Al was die kompetisie spanningsvol, het daar ‘n goeie gees geheers tussen die prokureur- en ingenieur firmas.
De Villiers Prokureurs se span het goeie sportmangees uitgeoefen en hul spangees het niemand teleurgestel nie.



