‘n Vierjarige is vanmiddag per helikopter na Johannesburg gehaas na ‘n verdrinkingsvoorval in Paryslaan.
Mooirivier Beskerming het op hulle Facebook-blad gesê hulle het die oproep net voor twaalfuur ontvang.
“Omstreeks 11:30 vanoggend het ons beheerkamer ‘n foonoproep ontvang oor ‘n verdrinkingsvoorval van ‘n vierjarige. Ons Mediese noodhulppersoneel het saam met ER24 gereageer en met aankoms dadelik met resussitasie prosedures begin. Na ongeveer 25 minute is die terugkeer van spontane sirkulasie bereik en daar is besluit om die pasiënt na ‘n spesialisfasiliteit in Johannesburg te vlieg.”
Rocket Hems is gekontak en die kind is na ‘n geskikte landingsarea by Bailie Park Laerskool geskuif. Rocket Hems het die kind in ‘n stabiele maar kritieke toestand na Johannesburg geneem.“
Dankie aan ER24 Potchefstroom, Afriforum Potchefstroom, Rocket HEMS en Laerskool Baillie Park.”
Laerskool Baillie Park het ook op Facebook gesê hulle is bly hulle kon help en het die pasient beterskap toegewens.



