Verwoestende veldbrande wek groot kommer
Agri NW is trots op die mense wat nog die wil en vermoë het om saam te werk en saam op te tree om mekaar te beskerm.
Agri Noordwes is diep bekommerd oor die groot verliese wat weereens gelei is as gevolg van die onlangse verwoestende veldbrande.
“Die feit dat ons jaar na jaar gebuk gaan onder dieselfde probleme, meestal veroorsaak deur dieselfde oortreders of dieselfde nalatige optrede maak die skade nog meer frustrerend en onaanvaarbaar,” het Naudé Pienaar, Waarnemende Uitvoerende hoofbestuurder van Agri NW, in ‘n verklaring gesê.
Na die baie erge 2023 brand seisoen het Agri NW herhaalde pogings aangewend om met die premier asook relevante departementshoofde te vergader met die versoek dat daar moeite gedoen moet word om beter te beplan vir komende brand seisoene.
“Ons standpunt was dat daar seker gemaak moes word dat amptenare wat vir twaalf maande betaal word, om beskikbaar te wees vir ‘n vier maande brand seisoen, beslis gereed moet wees met bruikbare toerusting wanneer hulle benodig word,” het Pienaar voorgegaan.
“Die huidige brand seisoen het egter ongelukkig bewys dat dieselfde gebrek aan begrip, onwilligheid, onvermoë, nie-voldoening aan wetgewing asook swak beplanning ons steeds nie in staat stel om van owerhede hulp te verwag om veldbrande te voorkom of vinniger te blus nie.
Die afgelope naweek se verwoestende brande, waar ‘n boer op sy plaas aan sy brandwonde beswyk het, is ‘n skreiende aanklag teen die owerhede wat veronderstel is om voorkomende maatreëls te tref en moet toesien dat die nodige toerusting en opgeleide mannekrag ten alle tye beskikbaar is in tye van nood.”
Agri NW het reeds weer met senior politieke leiers en departementshoofde geskakel en het hul wel ingestem om reeds hierdie week te vergader om nabetragting te hou en aandag te gee aan die baie tekortkominge wat weer tydens die brand, en andere, blootgelê is.
“Agri NW dra ons opregte meegevoel oor aan die familie en vriende van die oorledene en wens die ander persone wat beserings opgedoen tydens die brande ‘n spoedige herstel toe. Agri NW wil ook van hierdie geleentheid gebruik om elke persoon asook die Noordwes Brandbeskerming vereniging wat behulpsaam is om brande te help blus, te bedank vir hul groot hulp. Agri NW is trots op die mense wat nog die wil en vermoë het om saam te werk en saam op te tree om mekaar te beskerm. Ons doen ook graag ‘n beroep op alle grondeienaars om seker te maak dat hulle aan die vereistes van die Brandwet voldoen, voor en tydens brande.”
Soos altyd, sal Agri NW se personeel en leiers moeite doen om beter oplossings te ontwikkel, voor te stel en aan te moedig.



