Almal het al op een of ander stadium in hulle huis ‘n Tupperware-bak gehad. Die bakke is kannie-dood. Dit was die soort bakke waarop ma’s heilig was en dit was nooit uitgeleen nie. Gaste moes maar gewoonlik hulle woefkardoese in roomys of botterbakke huis toe neem.
Die Amerikaanse Tupperware-handelsmerkfirma, wat al 78 jaar bestaan, het in September bankrotskap verklaar.
Die plan was eers om die besigheid te verkoop,maar Tupperware Suid-Afrika het in ‘n verklaring bevestig dit sluit die einde van die maand in Suid-Afrika.
Vanaf 31 Desember 2024 sal Tupperware nie meer in Suid-Afrika verkoop word nie. Werknemers wat nie uit vrye wil bedank nie, sal vroeg in Januarie 2025 afgedank word.
Tupperware het gesê ‘n gebrek aan toerusting vir die vervaardiging van produkte is een van die redes waarom die maatskappy sluit.



