Gimmies beste kwintiel 4-skool in SA
Dit is ‘n klinkklare bewys van die kwaliteit onderrig in Potchefstroom.
Potchefstroom Gimnasium is vir die vyfde keer deur die Onderwysdepartement op die nasionale onderwystoekenningsgeleentheid in Boksburg as die beste kwintiel 4-skool in Suid-Afrika aangewys.
Hierdie besonderse toekenning word deur die Departement van Basiese Onderwys toegeken vir die top akademies presterende skool in die land, volgens verskeie kwintiele (groepe). Skole word in kwintiele verdeel met betrekking tot die beskikbaarheid van hul hulpbronne.
Gimmies het al sewe keer toekennings vir die beste kwintiel 4-skool gewerf, waarvan hulle twee keer tweede plek ontvang het en vyf keer eerste plek.
Skoolhoof by Potchefstroom Gimnasium Mnr. Willie van der Merwe sê die skool is baie dankbaar vir die toekenning en dit is net genade wat hulle tot hier gebring het.
“Ons is gefokus daarop om die beste moontlike geleenthede vir ons leerders te bied. As dit dan ‘n toekenning vir ons inhou, is dit definitief ‘n klop op die skouer, maar ons gaan steeds aanhou hard werk – met of sonder ‘n toekenning.”
Van der Merwe, wat in Februarie 2025 vir drie jaar lank al skoolhoof sal wees, vertel die skool se sukses kan aan verskeie rolspelers toegeken word.
“Die rolspelers sluit in gemotiveerde kinders, toegewyde en passievolle onderwysers, betrokke ouers en gemeenskap, en laaste maar nie die minste nie, goeie laerskole wat ‘n sterk fondasie neerlê waarop ons verder kan bou. Dit is klomp strome wat als bymekaar bring en daarsonder sou ons dit nie kon doen nie.”
Hy gaan voort om te sê dat klipharde werk nie eenkant toe geskuif moet word nie en dat dit net die Here se hand is wat sulke seëninge oor mens se pad bring.
“Vandag se kinders sukkel met baie meer uitdagings as jare gelede. Daar is soveel dinge waaroor ons geen beheer het nie. Dit is hoekom dit net die Here se genade is.”
Dit is vir die skool baie lekker en opwindend om hierdie toekenning te ontvang en is ‘n klinkklare bewys van die kwaliteit onderrig in Potchefstroom.



