Local news

Groot leemte na Potchefstroom se katte-tannie sterf

Haar afsterwe los ‘n groot leemte in die harte van Potchefstromers.

Nina Burger (78), bekend as Potchefstroom se Katte-tannie, is Dinsdagaand, 3 Desember oorlede. Haar afsterwe los ‘n groot leemte in die harte van Potchefstromers.

Niensie, soos haar familie haar genoem het, was bekend in die Potchefstroom gemeenskap omdat sy ‘n groot katteliefhebber was en elke dag om en by 350 katte kos gegee het.

Sy het in 1999, terwyl sy nog op die NWU se Potchefstroomkampus gewerk het, begin om straatkatte te voer. Sy het eers al die honger katte op kampus gevoer en later ander plekke ook. Sy het katte oral in Potchefstroom gevoer deur vir hulle kos te koop uit haar maandelikse pensioen en skenkings.

Lynn Andrews, Nina se susterskind, sê die oorsaak van Nina se dood is nog onbekend, die familie weet net sy is baie vinnig weg.

“Niensie was ‘n sterk Christen en het geweet waar sy heen gaan. Dit bring vir ons almal vertroosting. Niensie was altyd vasberade om haar ding te doen en wat sy in glo – haar katte kinders! Haar gunstelling gesegde was ‘Loop bene loop, hier is baie wat gedoen moet word vandag.’ Sy was onstettend lief vir haar familie, vriende en was ‘n Van der Merwe in murg en been met haar Springbokwedstryde, tuin-liefde en politiek. Baie lief gewees om te vertel van haar lugwaardin-jare en het die wêreld vol gereis. Sy het haar bromponie so geniet en was ‘n bekende gesig in Potch soos sy by almal gestop en gesels het. Ons is baie hartseer en gaan haar baie mis.”

Nina het haar 78ste verjaarsdag net weke gelede op 20 November gevier.

Dr. Elize van der Merwe van Bult Dierekliniek gaan help om plan te maak met Nina se katte. Van die katjies is nog babas.

Indien enigiemand belangstel om te help, kan hulle die kliniek by 018 294 7011 skakel.

‘n Troosdiens sal Saterdag 14 Desember om 10:00 vir Nina by die NG Gemeente Miederpark in Aarbeilaan 2, Miederpark plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button