Local news

Passievolle dansers gaan SA in Spanje verteenwoordig

Die toer sal vanaf 12 tot 18 Julie 2025 plaasvind en elke danser het +- R68 000 elk nodig.

Vier passievolle dansers, almal leerders by Potchefstroom Gimnasium, gaan Suid-Afrika in Julie 2025 by die Internasionale Mediterranean Legends kunstefees en kompetisie in Spanje verteenwoordig.

Elizka de Bruyn (17), is in Potchefstroom gebore en was op laerskool in Laerskool Bailliepark. Sy dans al vir ses jaar.

Sy vertel sy dans omdat sy die musiek deur haar liggaam voel en haar lewe nie kan insien sonder om te beweeg nie.

“Ek kan net dink hoe leeg my lewe sonder dans sal wees. Dit voed my siel. Die Here het my geseën met talent in dans en ek wil dit met liefde uitleef.”

Elizka sê ook sy is baie dankbaar vir die geleentheid wat oor hulle pad gebring is. Sy is dankbaar vir haar afrigter, haar wonderlike span en sy kan nie wag om al die ander kultuur in dans te beleef nie.

Zanica Bechaz (14), wat al vir agt jaar dans en in Laerskool Mooirivier was, sê dans het die leë plek in haar hart volgemaak.

“Ek is so opgewonde. Ek wil net my talent uitleef. Ek is so lief vir my afrigter en my spanmaats. Dit is regtig ‘n goeie geleentheid vir ons.”

Somé Cromhout (16) vertel sy dans omdat dit alles stil maak. Sy is gebore in Klerksdorp en het ook by Laerskool Bailliepark skoolgegaan. Sy dans al vir vier jaar.

“As ek dans, dan word alles stil. My kop en gedagtes raak stil, die wêreld raak stil. Dit is ook my manier om die Here te dien.”

Sy gaan voort om te sê sy is baie opgewonde om die geleentheid in Spanje by te woon en te sien hoe dans buite hulle klein sirkel lyk. Sy sien ook uit om ander mense te ontmoet wat haar passie en talent deel.

Nicolene Minnaar (16), dans al vir tien jaar en sy sê dans is haar grootste passie.

“Dans is soos ‘n taal wat ons met ons lywe praat. Soms kan mens goed in dans uitdruk wat mens nie noodwendig kan sê nie.”

Gebore in Oudtshoorn, het sy ook by Laerskool Bailliepark skool gegaan en is sy ook baie opgewonde oor die opkomende kompetisie.

“Dit is ‘n kans vir ons om ons vermoëns te verbeter en te versterk. Ek wil graag sien wat die wêreld van dans het om te bied.”

Die toer sal vanaf 12 tot 18 Julie 2025 plaasvind en elke danser het +- R68 000 elk nodig.

Anchenique Papenfus, die dansers se afrigter, sê sy is bitter trots op die groep.

“Ek was stomgeslaan toe ons die nuus kry. So ‘n geleentheid was buite ons verwysingsraamwerk. So ‘n geleentheid gaan hul horisonne verbreed en hul kennis oor dans en die wêreld daar buite uitbrei. Ek het eers nie geweet of ons dit sou kon aanpak nie, dit is baie fondse wat ingesamel moet word. Die ondersteuning van ons gemeenskap, hierdie passievolle dansers, en ‘n wonderlike span dans-ouers het my moed gegee. Ons eerste fondsinsameling was ‘n groot sukses. Ons het ‘n Padel Americano toernooi gehou vir skoolkinders en volwassenes. Lesers kan gerus op ons BackaBuddy blad gaan kyk hoeveel fondse reeds ingesamel is, hoeveel ons nog nodig het, en self ‘n borg word. Intussen bak en brou ons dansers deurlopend om allerhande lekkernye by die Mooirivier Kersmark te verkoop. Vir volgende jaar beplan ons onder andere weer ‘n Padel toernooi in Februarie, ‘n Fliekniek en ‘n Gholfdag (met ‘n twist).”

Indien jy ‘n bydra wil maak, kan jy die BackABuddy skakel volg: www.backabuddy.co.za/campaign/ team-sa-mediterranean-legends. Jy kan hulle ook ondersteun deur van hulle gebak by die Mooirivier Kersmark te koop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button