Potchefstroom se water veilig vir menslike gebruik
Potchefstroom se water is op drinkstandaard.
AfriForum se jaarlikse, onafhanklike blou-engroendruppelverslag dui daarop dat 87% van munisipale drinkwater veilig is vir menslike gebruik.
Die organisasie waarsku egter dat Suid-Afrikaners nie hieroor verlig moet wees nie, aangesien vanjaar se groendruppeluitslae daarop dui dat slegs 13% van verwerkte rioolwater aan die minimum standaarde vir storting in ’n waterhulpbron voldoen.
Volgens AfriForum se statistieke op water wat in Augustus getoets is, is Coligny, Hartbeesfontein (Lethabong), SchweizerReneke en Zeerust in die Noordwes se water nie veilig vir menslike gebruik nie.
Potchefstroom se water is egter veilig vir menslike gebruik.
Dr. Stanley Makuwa, hoofwaterontleder van Water en Sanitasie by die plaaslike munisipaliteit, het vroeër in November aan die Herald gesê Potchefstroom se water is op drinkstandaard.
“Potchefstroom se water word daagliks getoets, van die aanleg tot by die punt van verbruik.”
“Die algehele wanbestuur van die volledige watervoorsieningsketting wat deur hierdie skokkende syfers verteenwoordig word, voorspel boonop dat SuidAfrikaners in die toekoms nie net duurder kostes vir die behandeling van drinkwater te wagte kan wees nie, maar ook dat ‘n toenemende risiko bestaan dat verbruikers aan onveilige drinkwater blootgestel kan word,” het AfriForum in ‘n verklaring gesê.



