Dogtertjie op Oujaars deur hond in gesiggie gebyt
Dit is elke pasiënt se reg is om mediese hulp te ontvang.
Michellé Ferreira (6) is Oujaarsaand deur ‘n hond in haar gesiggie gebyt. Die spesifieke aand was daar vreeslike vuurwerke in die omgewing geskiet en dit is moontlik dat die hond vir die vuurwerke kon bang wees.
Michelle Ferreira, klein Michellé se mamma, vertel hulle het Oujaarsaand by haar ma (Michellé se ouma) gaan kuier toe die insident gebeur het. Daar is onsekerheid oor of die hond vir vuurwerke in die area geskrik het.
“Ons het Nuwejaars by my ma gaan vier toe die eienaar van die huis wat hulle huur se hond vir Michellé byt. Ons het onmiddellik met haar na Potchefstroom-hospitaal gejaag.”
Met hul aankoms omstreeks 01:10 by die hospitaal, het Michelle haar dogter na ongevalle geneem terwyl haar man, Schalk, klein Michellé se leêr gaan trek het.
“Ons het vir meer as 15 minute in die ry gewag, maar niemand het ons kom help nie. My man het besluit om te gaan kyk wat aangaan en het ‘n dokter in een van die sale gekry. Hy het mooi verduidelik dat ons ‘n noodgeval het en onmiddellik gehelp moet word. Dit is toe wat sy hom inlig dat daar ‘n ry is en hulle gaan by die lys af. Ons moet maar net wag,” vertel Michelle.
Die gesin het nog vir ‘n geruime tyd gewag voordat Schalk weer opgestaan het om hulp by iemand anders te probeer kry. Michelle sê Schalk het besluit om sommer te gaan kyk waar die plakkaat is wat verduidelik dat oumense, kinders en noodgevalle eerste voorkeur kry. Toe hy dit nie kon vind nie, het hy ‘n ander dokter genader wat vir hom presies dieselfde gesê het as die eerste dokter.
Volgens Schalk het hy egter aan hierdie dokter probeer verduidelik dat dit wel ‘n noodgeval is aangesien sy dogter baie lelik in haar gesig gebyt is.
Volgens die gesin is dié dokter na die saal waar die eerste dokter was en minute later het die eerste dokter glo uitgekom en al skreeuend vir hulle gesê sy weier om hulle te help. Die dokter het glo verder gesê sy mag weier om hulle te help. Die gesin moes mediese hulp op ‘n ander plek gaan kry.
“Ons het toe geen keuse gehad nie en moes haar na Mediclinic neem, waar ons eers R2 000 moes neersit voordat hulle ons kon sien.”
Michelle het intussen ‘n klag teen die spesifieke dokter by Potchefstroon-hospitaal gaan lê.
Die gesin is later deur die hospitaal genooi om ‘n vergadering op 8 Januarie by te woon. Tydens die vergadering is die proses en prosedures in die ongevalle met die ouers bespreek. Die hospitaal het ook om verskoning gevra oor die situasie nie as ‘n noodgeval hanteer is nie. Aan die gesin is gesê dat die betrokke dokter nie moes weier om die gesin te help nie en eerder ‘n bestuurder moes ontbied as sy gevoel het dat sy beledig word. Die gesin het aan die Herald gesê hulle is tevrede met hoe die situasie hanteer is.
Na afloop van die vergadering het die hospitaal met die Herald ontmoet. Dr. Michael Shakung, waarnemende uitvoerende hoof van Potchefstroom-hospitaal, het aan die koerant gesê dat dit elke pasiënt se reg is om mediese hulp te ontvang en elke pasiënt sal gehelp word.
Hy het voortgegaan om te verduidelik dat hulle ondersoek in die saak ingestel het. Daar is bevind dat klein Michellé se wond nie in daardie stadium gebloei het nie, wat dit as ‘n geel geval geklassifiseer het. Steke kan tot en met vier ure na die besering ingesit word.
Met hul ondersoek is ook bevind dat die dokter in daardie stadium besig was om drie pasiënte op te neem en Michellé sou volgende op die lys wees om hulp te ontvang.
“Die feit dat die dokter beledig gevoel het deur die pa, het haar aanstoot gegee en haar onwillig gemaak om hulle te help. Volgens getuies het sy wel vir hulle gesê sy kan eintlik weier om hulle te sien, maar sy het glad nie gesê sy weier om hulle te help nie,” het Shakung gesê. “Ons sal nooit ‘n pasiënt weier nie. Hoe vinnig pasiënte gehelp word hang af van hoe ernstig die geval is, maar almal sal gehelp word,” het Shakung verder verseker.
Darren Kruger van PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) sê die liefdevolste hond kan aggressief word wanneer hulle skrik vir iets soos vuurwerke.
“Dit is heeltemal onnatuurlik vir ‘n dier om blootgestel te word aan die harde geluide en flitsende ligte van vuurwerke. Wanneer hulle so groot skrik, gaan hulle in fight or flight mode en alles lyk vir hulle soos ‘n bedreiging. Hulle is totaal buite hulself en probeer net oorleef. Ek hoop die gesin weet dat daar ‘n saak gemaak kan word teen diegene wat die vuurwerke afgevuur het,” het Kruger verduidelik.



