Schoonies neem nie nuwe liga ligtelik op nie
Vir sommige ondersteuners is 'n trofee amper nie onderhandelbaar nie.

Hoërskool Schoonspruit, in Klerksdorp speel vanajar in ‘n nuwe liga. Na ‘n moeilike 2024 seisoen het hulle die besluit geneem om ‘n liga af te skuif, na Noordvaal se afdeling 4 toe.
Hier sal hulle teen HTS Klerksdorp, Potch Boys High, HTS Potch en Zeerust te staan kom. Alhoewel dit ‘n trappie af is waaraan die Klerksdorpers gewoond is, is Tiaan du Preez, rugbyorganiseerder by Schoonspruit, onder geen wanindruk van die taak wat voor hulle lê nie.
“Ons vat glad nie die nuwe liga ligtelik op nie en weet veral HTS Klerksdorp gaan ‘n lekker klip harde wedstryd wees,” het du Preez gesê.
Maar voor Schoonies by die Noordvaal liga begin moet hulle eers die mynveld van die NWU reeks oorleef. In dié reeks gaan hulle teen hulle ou vyande, Wollies te staan kom, so ook Vryburg en Fochville. Dié skole speel almal nou ‘n liga bo Schoonies. Hulle sal baie goed voorberei moet wees om kompeterend in dié kompetisie te wees.
Daar is goeie nuus vir die Klerksdorpers, veral wat die 1ste XV betref.
“Ons het ‘n baie sterk gr 11 groep wat nou van onder 16 af gekom het, ons gaan n jong 1ste span hê maar ek dink met tyd gaan die seuns dit vinnig gewoond raak en hulle gaan goeie rugby speel,” verduidelik du Preez wat ook een van die 1ste XV se afrigters gaan wees vanjaar.
Spelers soos Derick Coetzee en Ruan van Pletzen is spelers wat gerus dopgehou kan word.
Schoonies ondersteuners sal honger wees vir sukses, met die skuif na ‘n laer liga, is dit belangrik dat die sukses vanjaar behaal word. Vir sommige ondersteuners is ‘n trofee amper nie onderhandelbaar nie.
Vir meer plaaslike rugby-nuus, bepalings en uitslae besoek:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/