Skoon water loop straat af
Die probleem is al verskeie kere by die munisipaliteit aangemeld.
‘n Waterlek op die hoek van Chris Hani -en Dyerstraat is al vir sowat drie maande ‘n probleem.
Willie Du Preez wat in Chris Hanistraat bly, sê hy het al die probleem verskeie kere by die munisipaliteit aangemeld.
“Dit is skoon water wat lek, nie riool water nie. Almal gaan aan oor hoe mens water moet spaar, maar dan loop die skoonwater in die pad af.”
Volgens ander inwoners in die gebied, is die teer al besig om te verbrokkel soos wat die water daaronder deur syfer.
“Die teer word nie eers meer droog nie. As jy met jou voet daarop trap, kan jy voel hoe sag is die teer,” het een inwoner gesê.
Willie gaan ook voort om te sê die gras op die sypaadjie op die hoek van Chris Hani en Dyerstraat word nie deur die munisipaliteit gesny nie.
“Daar is baie skole in die gebied en daar loop daagliks kinders deur die veldjie. Dit is baie gevaarlik. ‘n Kwaaddoener kan net plat lê in die gras en mens sal hom nie sien nie.”
Willie vertel hy het altyd self die sypaadjie skoongemaak sodat dit meer veilig is, maar hy sien nie meer kans om dit te doen nie.
Navraag is by die munisipaliteit gedoen, maar ten tyde van publikasie is geen terugvoer ontvang nie.





