Local news

Aupair se nagmerrie in buiteland

Die ervaring het vir Kihara baie rooskleurig gelyk en beloof om baie voordele in te hou.

Kihara van der Linde (22), gebore in Potchefstroom en oud-Volkie, het besluit om laasjaar oorsee as aupair werk te gaan doen sodat sy geld kon spaar om vir haar studies in IT te betaal. Die ervaring het vir Kihara baie rooskleurig gelyk en beloof om baie voordele in te hou. Tot haar bittere spyt was die ervaring glad nie rooskleurig nie en het sy met baie trauma teruggekeer SA toe.

Kihara vertel alhoewel dit ‘n hele proses is om aansoek te doen, het dinge baie vinnig gebeur.

“’n Mens moet ‘n profiel bymekaar sit, baie papiere invul, kriminele rekordkontrole doen en mediese klaring kry. Alhoewel daar baie dinge is wat jy vooraf moet doen, het ek redelik vinnig ‘n familie gekry. Hulle het dringend iemand nodig gehad.”

Sy verduidelik dat wanneer ‘n familie belangstel om jou aan te stel, julle eers ‘n onderhoud oor Skype doen.

“Ek het met die pa oor Skype gesels en die ma was in daardie stadium in die hospitaal. Ek het aangeneem dit is omdat sy siek was. Ons het toe ooreengekom dat ek onmiddellik sou oorgaan.”

Sy het die 21ste Januarie 2024 na Alaska toe gevlieg. Sy het eers vir ‘n paar dae deur opleiding gegaan voordat sy by die familie aangesluit het. Toe sy by hulle aansluit, was die ma nog nie uit die hospitaal uit nie. Dit was toe dat sy uitvind die ma het probeer om haar eie lewe te neem.

“Ek was ongeveer drie weke by die familie toe dinge begin sleg raak het. Die ma het kommentaar oor als wat ek doen begin lewer. Ek kon niks reg doen nie, sy sou vir my sê hoe sleg ek is, dat ek te veel eet ens. Sy het later woede uitbarstings begin kry en my vreeslik gevloek. Die drie- en vyfjarige kinders het my ook gevloek.”

In ‘n staduim het die ma kos van Kihara af weggevat en geweier dat sy mag eet. Sy wou graag terugkom SA toe, maar wanneer jy wil terugkom voor jou tydperk klaar is, moet jy jou eie vlugkaartjie koop. Sy het toe ‘n rematch gedoen en in Maart by ‘n nuwe familie in Florida aangesluit.

“Die familie was in die begin baie oulik. Ek was baie lief vir hulle klein seuntjie en omdat die pa self van Suid-Afrika af kom, het ek gedink dit sal ‘n goeie pas wees. Soms het die gesin gaan uiteet en nie vir my kos of ‘n kar gelos nie, wat beteken ek het daardie aande nie geëet nie. Dit was so ver van als af, dat ek nie kon kos bestel of êrens kon gaan om self kos te koop nie. Hulle het later dat ek oortyd werk, sonder om met my daaroor te praat. Daar mag ook glad nie oortyd gewerk word nie. Ek het later tot en met 70 ure per week gewerk. Ek het met my koördineerder daaroor gepraat en sy sou dit met die familie uitsorteer. Dit het ongelukkig nie uitgewerk nie en ek moes onmiddelik uit wees. Die familie het my uitgeskop. Ek het nêrens gehad om te gaan nie. Ek moes ‘n vriendin smeek om net vir die aand daar te gaan slaap.”

Kihara is in September na ‘n nuwe familie in Kalifornië, waar sy gebly het tot sy in Januarie vanjaar na SA teruggekeer het.

“Hierdie was vir my ‘n baie slegte tyd omdat ek glad nie deel mag gewees het van die gesin nie. Ek moes heeltyd net in my kamer sit wanneer ek nie gewerk het nie en mag nie in die huis ingegaan het nie. Daar het eenkeer ‘n hele naweek verby gegaan wat hulle nie vir my kos gegee het nie. Ek moes ook Kersdag heeltemal alleen spandeer want die familie het gevra ek moet hulle nie pla nie,” vertel sy.

Dit buiten al die vuil huise, kinders wat haar geskop, klap en gebyt het, die families wat haar sleg hanteer het en die verlange huis toe, is geen van die kinders gepotty train nie. Sy moes hulle self potty train en die gemors skoonmaak.

“Mens is baie alleen. Mense laat dit klink asof jy gaan toer en nuwe mense gaan ontmoet en al hierdie wonderlike ervaringe gaan hê. Dit was glad nie die geval met my nie.”

Kihara wil graag ander jong aupairs bewus maak van die ervaring en wenke gee vir goed om voor uit te kyk voordat jy net by ‘n familie aansluit.

Wenke vir toekomstige aupairs:

  1. Vra die harde vrae. Daai vrae wat ‘n mens bang is om te vra, want jy wil nie die familie afskrik nie. Daar is baie families en so sal jy die rooi vlaggies ontdek.
  2. Bly soveel as moontlik in kontak met jou potensiële familie. Maak seker dat jy die ware prentjie kry van hoe dinge lyk by hulle huis, nie net ‘n vinnig spring cleaning van ‘n perfekte huis en familie op ‘n video gesprek wat beplan is nie.
  3. Praat altyd met die vorige aupairs en kry beide kante van ‘n storie. As hulle nie vir jou die kontak inligting wil gee nie, hou dan eerder verby, want ‘n eerlike familie het niks om weg te steek nie.
  4. Vat jou tyd om ‘n familie te kies, moenie in ‘n blik gedruk voel met hulle tydlyn nie. Onthou, jy spandeer ‘n jaar saam met daai mense.
  5. Vertrou jou intuïsie, dit sal jou nooit mislei nie.
  6. Doen navorsing oor die agentskap wat jy kies, vra vir verwysings van ander aupairs wat reeds die program gedoen het.
  7. Lees die fynskrif van die agentskappe en maak seker dat dit ‘n agentskap is wat jou deur dik en dun sal bystaan.
  8. Jou koördineerder is jou beste vriendin in ‘n vreemde land. Jy kan haar met enige iets vertrou, wat jy met hulle bespreek sal nie deurgegee word na die familie nie, tensy jy hulle vra om dit te bespreek. Hulle gee die beste raad en soms kort mens net ‘n vars perspektief.
  9. Aupair werk is een van die eensaamste werke wat daar is, die ure is rof en Amerika is groot, daar is nie noodwendig so baie aupairs naby jou nie.
  10. Stel vir jou ‘n begroting op en bly by dit. Maak vir jou ‘n lys van alles wat jy wil sien en doen, en gaan doen dit.

Ek het ‘n baie in-diepte vraelys vir families wat ek opgestel het, enigiemand kan my kontak vir meer inligting of al is dit net vir ‘n oor om te luister. Epos my by vanderlindekihara@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button