Potch neem voortou van plaaslike sakenetwerke met dié bestuur
Hierdie sakenetwerk is die eerste van sewe plaaslike sakenetwerke.
AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in Potchefstroom het die afgelope week voortou geneem deur ’n bestuur te verkies wat dié dorp se sakelui sal ondersteun.
Hierdie sakenetwerk is die eerste van sewe plaaslike sakenetwerke – wat onlangs deur AfriForum Sakenetwerk gestig is – om ’n bestuur te verkies.
“Die bestuur is verantwoordelik daarvoor om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied op te bou,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.
AfriForum Sakenetwerk se Potchefstroom-bestuur is op 14 Maart verkies en bestaan uit Christi-Léne Gericke (Rain Chartered Accountants) as voorsitter, Alta Pretorius (AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier-tak) as ondervoorsitter, Morné Alexander (direkteur van Pulse Credit) as tesourier, Miranda Huisamen (Kleinplaas Pype) as koördineerder van die sosialeportefeulje en Catherine-May Trollip (Akademia se afdeling vir institusionele projekte en ondernemings) as sekretaris.
“Die stigting van dié plaaslike sakenetwerk en die aanstelling van ’n bestuur beteken dat ondernemings in en om Potchefstroom van krag tot krag sal gaan,” sê Van der Walt.
“AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap.”
Potchefstroom se plaaslike sakenetwerk se eerste netwerkgeleentheid vind op 11 April om 11:30 plaas. Enigeen wat by hierdie geleentheid baat kan vind, word genooi om in te skakel. Kontak gerus Christi-Léne Gericke (voorsitter) by 072 460 0067 vir meer inligting oor hierdie geleentheid.



