Pitbull-saak gaan wel voortgaan
Die egpaar se regspan het die aansoek gebring omdat hulle glo daar is geen redelike kans vir 'n suksesvolle skuldbevinding nie.
Die aansoek dat die saak teen die egpaar wie se honde hulle huishulp in 2022 aangeval en verskeur het, laat vaar word is van die hand gewys.
Die Noordwes se direkteur van openbare vervolging het beslis dat die saak moet voortgaan, maar geen redes is tot dusver aan die egpaar se regspan verskaf nie. Die egpaar se regspan het die aansoek gebring omdat hulle glo daar is geen redelike kans vir ‘n suksesvolle skuldbevinding nie.
Chandré en Marno Mostert, word van nalatigheid aangekla nadat hulle huishulp Dipuo Kokolosi in Januarie 2022 deur die drie honde by hulle huis in Kockstraat aangeval is.
Die honde het haar neus, lip, en oorskulpe afgeruk en haar ook aan ander dele van haar liggaam gebyt.
Een van die staatsgetuies, Ziggy Abdullah, ‘n buurman, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ‘n waarskuwingskoot afgevuur het. Kokolosi het sedert die voorval talle rekonstruktiewe operasies ondergaan.
Die saak is Woensdag, tot 28 Mei uitgestel. Volgens Netwerk24, moet die Mosterts se regspan nog die moontlikheid met hulle bespreek dat die vertoë om die saak te laat vaar aan die nasionale direkteur van openbare vervolgings te rig.



