Potchefstroom kan Dorp van die Jaar wen
Potchefstroom het die vriendelikste en mees behulpsame mense.
Kilometers en kilometers met rye bome. Velde vol Kosmos blommetjies. ‘n Enig-insy-soort Universiteit en baie lekker dinge om te doen. Hierdie is alles dinge wat ‘n dorp ‘n lekker plek kan maak om te bly of te besoek. Maar dit is nie hoekom Potchefstromers so lief is vir Potchefstroom nie.
Of jy nou hier gebore is, net hier deurry, hierheen getrek het, of net hier kom kuier, almal se opinie is ooreenstemmend – Potchefstroom het die vriendelikste en mees behulpsame mense.
Potchefstroom is genomineer as een van Kwêla se Dorp van die Jaar (DVDJ)- kompetisie se semi-finaliste. Vanjaar se kompetisie vind plaas in samewerking met Lottoland. Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kon genomineer word, mits daar minder as 500 000 inwoners is en die dorp nie ‘n streekwenner in die afgelope twee jaar was nie. Mense het kans gehad tot 14 Maart om per sms vir hul gunsteling dorp te stem.
Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die semi-finale ronde (op 13 April, 20 April en 27 April). Hier kry die publiek vir ‘n week lank elke ronde ’n geleentheid om vir hul gunsteling-dorp uit die drie semi-finaliste uit elke streek te stem. Die ronde laat net 30 sms’e per nommer toe.
Die dorp met die meeste stemme sal die kompetisie-streek as hul finalis-dorp in die finale rondte verteenwoordig. Kwêla sal ‘n insetsel verfilm in elk van die nege dorpe wat tot die finale rondte deurgedring het. Wanneer al nege dorpe op Kwêla vertoon is, sal die publiek vanaf 19:00 op 13 Julie tot 12:00 op 18 Julie vir die wendorp kan stem. Die Wendorp word op 2 Augustus op Kwêla aangekondig.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys. Die dorp wen ’n ongelooflike R1m se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, gaan ’n advertensie van 45 sekondes oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai word.
Daar gaan ook ‘n groot afskop in die wendorp wees – musiek, kos, pret en baie van daardie wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later vanjaar uitgesaai word. Lottoland skenk ook in hulle eie hoedanighed ‘n R1m kontantprys vir die dorp om in hul dorp terug te ploeg en wat deur hulle geoudit sal word. Elke finalisdorp sal vooraf gevra word om ‘n sakeplan in te dien oor wat hulle van plan is om met die potensiële prysgeld te doen.
Piet Badenhorst, ‘n inwoner van die dorp sê hy gaan nêrens heen nie.
“Ek ken die kroegman, dokter, predikant, werktuigkundige, tandarts, vervoerkontrakteur, dienssentrumbestuurder slagter, bakker, handyman, verwer en nog ‘n klomp ander mense op hul voorname, en hulle vir my. Dan sê mense ek moet vir my ‘n huisie by die see gaan koop. So ‘n gawe en betroubare klomp in Potchefstroom. By die see weet ek nie eens waar is die kroeg nie. Ek bly net hier!”
Nog ‘n inwoner, Susan Erasmus Davel sê: “Beste stad ooit! Heerlike weer! Nie te besig nie, mooi natuur, by die rivier en groot dam, baie te bied kultuurgewys wonderlike universiteit en bo alles, ‘n wonderlike, diverse gemeenskap wat mekaar respekteer. Wat wil mens meer hê.”
Gerrie Jerling, ‘n inwoner wat onlangs deur ‘n moeilike tyd gegaan het, sê Potchefstromers staan saam.
“Julle kan van Potchefstroom sê net wat julle wil! Dit is die mense wat die dorp maak en nie hoe dit lyk nie. Die mense van Potchefstroom kan nog saamstaan ten tye van nood, ons het eerstehandse ervaring daarvan. Hulle het harte van goud.”





