Seun sterk aan na krokodil-aanval
Hy is sedertdien in ‘n privaat hospitaal in die pedriatiese intensiewesorgeenheid opgeneem.
Johandré Blom (7) wat se arm op 21 Maart deur ‘n krokodil afgebyt is toe hy in vlak water by Emanzini, naby Brits gespeel het, sterk in die hospitaal aan.
Hy het Vrydag, 4 April ‘n operasie ondergaan.
“Als het goed afgeloop. Hy het seer gehad na die operasie maar die dokters het hom mooi pyn blok gegee wat mooi help,” het Johandré se gesin in ‘n plasing op die Johandré Blom Support page gesê.
“Hy herstel ongelooflik vinnig volgens die dokters. Die wonde op sy ribbekas is amper toe. Die een wat nog klein bietjie oop is, sal hulle Maandag, 7 April ‘n vel oorplanting op doen.”
“Die skouer lyk baie goed en as die infeksie so laag bly oor die naweek sal hy Maandag ook toe gemaak word met ‘n vel oorplanting. Hy was die week ook bietjie buite en het lekker vars lug gekry en rond gery in die rolstoel,” gaan die plasing voort.
Johandré was saam met sy ouers, Corné en Amanda, by ‘n visvangoord en het saam met ‘n maat gespeel toe die voorval plaasgevind het. Johandré se maat het hom van die krokodil probeer wegtrek, waarna Corné ingespring het om te help. Die krokodil het met Johandré en Corné in die rondte gedraai en toe hulle kon loskom, was Johandré se arm weg.
Hy is sedertdien in ‘n privaat hospitaal in die pedriatiese intensiewesorgeenheid opgeneem.



