Sinkgate hou gevaar vir Potchefstroom in
Die pad is deur owerhede gesluit tot verdere kennisgewing en inwoners word versoek om die gebied te vermy.
Weens die laaste paar weke se konstante reën het nie net Potchefstroom se paaie versleg nie, maar twee sinkgate het die naweek ook weens die reën ingeval.
Een sinkgat het op die grondpad in Malvastraat wat in Hattinghstraat uitloop, ingeval.
Natasha Oberholster is een van die inwoners in die gebied, wat gesien het hoe motors in die sinkgat vas gaan sit het.
“Ons wil net graag al die Potchefstromers aanraai om asseblief nie die grondpad wat uit Malvastraat loop en by Hattinghstraat eindig te gebruik nie. Daar het tans ‘n reuse sinkgat voor die kleuterskool ingeval en het daar al twee voertuie se wiele ingeval en vasgesit. Ons wag nog vir terugvoer vanaf rondom die situasie.”
Met die Herald se besoek, was werkers reeds besig om die gate in Malvastraat met gruis toe te gooi.




‘n Tweede, baie groot en diep, sinkgat het oor die naweek by die Kruising van Dwars- en Eleazerstraat ingeval. Die pad is deur owerhede gesluit tot verdere kennisgewing en inwoners word versoek om die gebied te vermy.
Met die Herald se aankoms, was munisipale werkers reeds op die toneel. Navraag is by die munisipaliteit gedoen en daar word op terugvoer gewag.





