Mense verloor als langs die oewer
Dit is die tweede keer in een maand wat die rivier in vloed is en sluise oopgemaak word.
Met die onlangse sluise wat by die Vaaldam oopgemaak is, het talle mense by Vaal Vista teen die oewer van die Vaalrivier alles verloor weens oorstromings. Sommige huise is tot venster hoogte onder water.
Dit is die tweede keer in een maand wat die rivier in vloed is en sluise oopgemaak word. Hierdie keer is die mense baie harder getref. Buiten dat hulle als verloor het, is die paaie so sleg dat dit byna onmoontlik is om by hulle uit te kom.
Ann-Marie Coetzer het ‘n insamelingsprojek begin deur vir die families komberse, warm klere en kos in te samel. Teen 29 April was dit steeds nie moontlik om by hulle uit te kom nie.
Fanie Roets, wat by Vaal Vista bly, sê daar is 19 wonings wat tans affekteer word. Vier van die wonings is naweekhuise en bly daar nie permanent mense in nie.
“Die paaie is heeltemal weggespoel. Ons het nou probeer om ‘n pad tydelik te herstel sodat daar net ‘n voertuig kan deurgaan. Dit is net een diep sloot. Tot ‘n 4×4-voertuig het probeer deurgaan en gesukkel of vasgesit.”
Fanie vertel die mense kyk na mekaar.
“Dit is die tweede keer hierdie maand wat dit gebeur. Die mense sorg vir mekaar en ook vir die werkers wat vasgekeer is.”
Fanie vertel dit is ‘n groot vrees indien iemand sou seerkry in hierdie tyd.
“Die pad is al vir jare ‘n probleem. Dit het dringend aandag nodig. Dit word elke jaar erger. Sodra die rivier vol is, is die paaie onder water.”
“Die boere sukkel ook. Hulle oeste moes al af gewees het, maar dit is onmoontlik om daarby uit te kom.”
Fanie het die probleem by die munisipaliteit aangemeld en rampbestuur het na die probleem kom kyk, met die belofte dat dit ‘n prioriteit gemaak sal word.
Intussen het hierdie mense kos, warm klere, komberse en kos vir hulle diere nodig. Indien jy iets wil skenk, wil help met die pad of wil help om ‘n oplossing te vind, kontak vir Ann-Marie by 084 481 2144 of haar man Wayne by 084 209 3014.




