Pa en seun op pad na Wêreldkampioenskappe
Hy het as klein seuntjie van net twee jaar oud, saam met sy pa begin boogskiet.
Chian Crous (8), ‘n leerder van Baillies, neem hierdie jaar deel aan die 3D Wêreldkampioenskappe. Wat hierdie geleentheid nog meer spesiaal maak, is dat hy saam met sy pa, Mynhardt, gaan deelneem.
Hy skiet vir Suid-Afrika se Cubs o13 Compound bow Free Style, waar hy die jongste van 560 deelnemers is. Die wêreldkampioenskappe word vir die derde keer in Potchefstroom by die Elgro River Lodge gehou en sal vanaf 29 April tot 2 Mei plaasvind. Die prysuitdeling sal op 3 Mei gehou word.
Chian se ma, Laumé, vertel Chian het ‘n groot liefde vir sport.
“Hy het sy hart daarop gesit en nou is daar geen keer nie. Hy het as klein seuntjie van net twee jaar oud, saam met sy pa begin boogskiet. Mynhardt het vir Chian saamgeneem na kompetisies en so het die liefde vir boogskiet begin. Hierdie is ‘n baie spesiale jaar waarby pa en seun saam by die wêreldkampioenskappe gaan boogskiet.”



