Harte breek vir oumensies en hul diere
Ian moedig mense aan om diere aan te neem en ook kos te skenk.
Daar is niks so hartseer soos wanneer ‘n bejaarde nie meer vir hul geliefde troeteldier kan sorg nie.
Baie bejaardes het geen keuse as om hulle diere weg te gee nie. Soms raak hulle te oud om vir die diere te sorg, moet na ‘n ouetehuis trek en die diere kan nie saam nie, of die ekonomie druk eenvoudig te hard en hulle kan eenvoudig nie meer finansieel vir na hul troeteldiere omsien nie.
Hierdie diere eindig gewoonlik by Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) op.
Pukkie en Buddy is twee van hierdie honde wat by PAWS afgelaai is. Dit breek nie net mens se hart vir die diere nie, maar ook vir die mense wat nie net hul heenkome, maar ook hulle beste vriende verloor.
“Elke dag breek ons harte, maar sommige dae net so bietjie meer as ander! Ons het nie woorde nie. Menige oumense sit in hierdie selfde posisie en ons vra vandag die gemeenskap se hulp,” het PAWS op hul Facebookblad gesmeek.
Ian Smit van PAWS vertel sulke gevalle kom baie voor, maar elkeen se omstandighede is anders.
“Dit breek ons harte, maar ons doen als wat ons kan om te help. Ons neem die honde met liefde in en help om vir hulle ‘n nuwe, liefdevolle huis te soek. Ons maak ook een keer per maand ‘n punt daarvan om kospakkies vir mense te vat wat sukkel om vir hulle diere te sorg.”
Ian moedig mense aan om diere aan te neem en ook kos te skenk. Pukkie en Buddy se storie draai gelukkig baie meer positief uit as meeste honde. Hulle het reeds ‘n nuwe huis gekry.
Indien jy belangstel om ‘n hondtjie aan te neem, of om kos te skenk, kontak vir PAWS by 071 681 9264.




