Potchefstromer bring humor en kleur na kinderstories
Vetvlooi en Vabond sal betyds vir Kersfees beskikbaar wees.
Adri Scholtz, ’n kreatiewe inwoner van Potchefstroom, maak golwe in die wêreld van Afrikaanse kinderboeke met haar unieke, humoristiese styl en kleurvolle sketse.
Gebore in Delareyville, het sy aan Hoër Volkskool gematrikuleer en as haarkapper by Potchefstroom Akademie studeer. Sy woon al meer as 20 jaar in Potchefstroom.
“Ek glo God gebruik my in die salon om met vroue te werk en ook hulle selfvertroue te bevorder.”
Adri is nie net ’n passievolle skrywer nie, maar ook ’n mamma van ‘n sprankelende dogtertjie, wat haar daagliks inspireer.
“Kaelynn is die hart van my stories – haar lag, vrae en avonture is wat my pen laat dans,” vertel Adri.
Sy is al 12 jaar getroud met haar lewensmaat, Reynier, wat haar kreatiewe drome ondersteun.
Met ’n liefde vir skets, kuns en die Afrikaanse taal, bring sy storievertel tot lewe op ’n manier wat kinders laat giggel én droom.
Adri vertel sy is geïnspireer deur Trudie Badenhorst, ‘n bekende skrywer, nadat sy ‘n klein stukkie anoniem in Trudie se boek geskryf het.
“Dit is waar die gogga gebyt het. Ek het met Trudie se hulp my eerste boek aan Naledi Uitgewers gestuur en hulle was mal daaroor.”
Haar debuutboek Vetvlooi en Vabond neem jong lesers op ’n dolle avontuur saam met ’n lawwe straathond en sy beste maat – ’n vlooi met ’n cowboy hoed! Die karakter van Vabond is losweg geïnspireer deur die Scholtz-gesin se eie geliefde Belgian Mallenois, wat ook sy eie unieke persoonlikheid het.
Die storie is propvol humor, hart en Afrikaanse karakters – perfek vir voorlees of selflees Adri glo vas aan die waarde van lees: “Lees is een van die kosbaarste geskenke wat ons vir kinders kan gee. Dit help hulle dink, droom, en ontwikkel die verbeelding – en dis ’n manier om emosies, empatie en taalvaardighede te bou.”
Sy hoop dat Vetvlooi en Vabond kinders nie net laat lag nie, maar ook aanmoedig om hul eie liefde vir boeke te ontdek.
Sy deel ook dat sy eers later in haar lewe besef het dat mens rêrig enigiets kan doen wat jy droom – en nou wil sy graag ander mammas inspireer.
“Ons gee so baie van onsself vir ander, maar dit is so belangrik om ook iets te doen wat jóú vol maak. Hierdie boek is my ‘iets’ en ek hoop dit moedig ander mammas aan om ook hulle drome te volg.”
Vetvlooi en Vabond sal betyds vir Kersfees beskikbaar wees, perfek vir onder die boom! Daar sal ook verskeie lesings van Adri se boek in November in Potchefstroom plaasvind.




