Hoe om bloeding in ‘n noodgeval te stop
Vinnige asemhaling, lusteloosheid en verwarring is ook tekens van ernstige besering.
Onbeheerde bloeding benodig vinnige ingryping. ‘n ER24-kenner verduidelik hoe om bloedvloei te stop.
Verstaan die tipe bloeding
Reinhard Podges, ‘n Gehalteversekeringsbeampte by ER24, sê dit is noodsaaklik om die tipe bloeding vinnig te bepaal en dit vinnig te beheer. Hy identifiseer die drie tipes:
Arteriële bloeding: “Dit is ‘n druk-uitbarsting van helderrooi bloed wat saam met die hartklop stroom,” sê Podges. “Dit is die gevaarlikste tipe bloeding en benodig onmiddellike mediese aandag.”
Aveneuse bloeding: “Dit is wanneer donkerder rooi bloed uit are vloei wat bloed weg van die hart dra. Die vloei is bestendig en word dikwels veroorsaak deur diep skeurwonde aan groot are. Dit kan vinnige bloedverlies veroorsaak.”
Kapilêre bloeding: Gewoonlik die minste ernstige tipe bloeding, maar dit benodig steeds aandag. Dit word dikwels veroorsaak deur stampe of skrape. Die bloed sypel stadig uit die wond en stol gewoonlik vanself. “Maak die plek van die bloeding skoon met louwarm water, want as bakterieë die bloedsomloopstelsel binnedring, kan dit infeksie of sepsis veroorsaak,” adviseer Podges. “Wend dan ‘n huishoudelike ontsmettingsmiddel soos Savlon of Dettol aan voordat u die area verbind.”
‘n Gids tot bloedingbeheer
Podges beskryf die vier hoofmaniere waarop jy kan help in ‘n bloedingsnoodgeval:
- Verseker ‘n veilige omgewing en ontbied hulp
Maak seker dat daar geen gevare is nie, soos aankomende verkeer of vallende puin, wat jou kan seermaak terwyl jy die pasiënt help. Bly kalm.
“As die persoon bleek, sweet of koud is om aan te raak, is dit tekens van skok, wat onmiddellike mediese aandag benodig. Vinnige asemhaling, lusteloosheid en verwarring is ook tekens van ernstige besering.
- Pas direkte druk toe
As dit ‘n beheerbare bloeding is, oefen ferm, direkte druk op die wond uit met ‘n skoon lap, kledingstuk of selfs jou hand as niks anders beskikbaar is nie. Ideaal gesproke sou jy ‘n traumaverband (absorberende gaas) gebruik.
Oefen konstante druk vir ten minste 15 minute uit, sonder om die verband weg te trek om die wond te ondersoek.
As bloed deur die materiaal insypel, voeg meer lae by en oefen meer druk uit, sonder om die oorspronklike verband te verwyder.
Vir diep, ernstige snywonde wat deur skietwonde of steekwonde veroorsaak is, druk los verband in die wond om die bloed soveel as moontlik te absorbeer voordat die area toegedraai word.
- Lig die wond op
As dit ‘n arm of been is wat bloei, probeer om die ledemaat bo die vlak van die hart te hou terwyl jy druk uitoefen. Swaartekrag sal help om die bloedvloei na die area te verminder en met stolling te help.
Moet nooit probeer om ‘n ingebedde voorwerp, soos ‘n mes of groot stuk glas, te verwyder nie, aangesien dit die bloeding kan beheer. Rol eerder ‘n verband in ‘n oliebolvorm om die voorwerp totdat mediese hulp opdaag.
- Plaas ‘n toerniket
Indien direkte druk en verhoging nie die bloeding beheer nie, bind ‘n toerniket ‘n paar sentimeter bokant die bloeding vas. Indien daar geen verband is nie, gebruik ‘n gordel, serp of lap en trek dit styf totdat die bloeding stop. Probeer om die tyd te onthou waarop u die toerniket die eerste keer aangebring het en vertel ER24-medici wanneer hulle opdaag. Dit is omdat as bloedvloei na ‘n ledemaat vir ‘n lang tydperk beperk is, dit ernstige komplikasies kan veroorsaak.
Vir areas waar ‘n toerniket nie aangebring kan word nie, soos die lies, oksel of nek, druk los verband in die wond om die bloed soveel as moontlik te absorbeer voordat u die area toedraai en direkte druk toepas. Vir ‘n nekbesering, oefen slegs druk op een kant van die nek uit om verdere besering of die risiko van obstruksie van die lugweg of teenoorgestelde bloedvate te voorkom.
Moenie die toerniket verwyder voordat mediese hulp opdaag nie. Die verwydering daarvan kan ‘n skielike stroom bloed terug in die ledemaat veroorsaak, wat moontlik verergerende skok kan veroorsaak. ER24-paramedici kan moontlik hemostatiese middels toedien – ‘n intervensie wat bloeding verminder deur bloed te help stol.
“Om te weet hoe om ernstige bloeding te stop, is ‘n belangrike lewensreddende vaardigheid,” voeg Podges by. “In ‘n noodgeval kan jou vinnige optrede die verskil tussen lewe en dood maak.”



