Klerksdorp kollegas vir diefstal aangekla
Die kollegas is ongedeerd in Kempton Park opgespoor.
Die polisie in Klerksdorp, met die hulp van gemeenskapslede, het die twee vermiste kollegas, Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) op 7 Augustus in Kempton Park, Gauteng, opgespoor. Die twee is in hegtenis geneem op aanklagte van diefstal van ‘n motorvoertuig en kontant.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die duo het op 8 Augustus vlugtig voor die Klerksdorp-landdroshof verskyn en is in aanhouding gehou tot hul volgende hofverskyning wat Vrydag, 18 Augustus sal plaasvind.
Die beskuldigdes is 14 Julie laas by die Afrikaner Plot in Wesselstraat in Meiringspark, Klerksdorp gesien. Hulle het hul werkplek in ‘n maatskappyvoertuig, ‘n wit Toyota Hilux Raider-bakkie, verlaat om onderdele in Klerksdorp Industria te gaan haal, maar het nooit teruggekeer nie. Daarna het hul werkgewer ‘n ondersoek na vermiste persone geopen.



