Vat Verniet-tafel dien weer die gemeenskap in Oktober
Die Vat Verniet-tafel is 'n projek waar haweloses en behoeftige mense van Potchefstroom die kans kry om verniet, sonder oordeel en met waardigheid, vir hulle items te gaan haal wat hulle benodig.
Die Vat Verniet-tafel projek sal op 25 Oktober weer by Mooirivier Beskerming se parkeerarea om 16:00 plaasvind. Niks word verkoop nie, maar haweloses en behoeftige mense van Potchefstroom sal die kans kry om verniet, sonder oordeel en met waardigheid, vir hulle items te kom haal wat hulle benodig.
“Ons het al ‘n paar trolliedae agter die rug en kon daardeur ‘n hele klomp kos insamel – maar ons het steeds die gemeenskap se hulp nodig om genoeg van elke item bymekaar te kry vir die opkomende Vat Verniet Tafel,” vertel koördineerder Angelique Lottering.
Angelique gaan voort om te sê vier haarkappers het bevestig dat hulle die dag kom help om hare te sny.
“Ons gaan ook ‘n kort vraelys (survey) laat invul by almal wat in die ry staan, om beter te verstaan wat die behoeftes is van die mense wat ons bedien. Tydens die Aardklop Kunstefees het ons groot blootstelling gekry, Baie mense het pamflette geneem en gesê hulle gaan goedjies aflewer. Danksy dit het daar selfs nuwe vrywilligers bygekom. Ek is ook in kontak met mense van 23 ander dorpe wat beplan om die Vat Verniet Tafel-projek in hul eie gemeenskappe te begin. Dorpe soos Witbank, Dewetsdorp, Welkom, Boksburg, Stilfontein en meer.”
Angelique sluit af deur te sê sy glo vas hierdie projek gaan net groter en sterker word.
“Wanneer ons saam gee, raak ons gemeenskap sigbaar met liefde in aksie.”
Waar kan ek my skenkings aflaai?
By Mooirivier Beskerming, 48 Spruitstraat. Ons is 24/7 oop, so jy kan enige tyd kom aflaai.
Wat kan ek skenk?
- Klere (vir groot en klein)
- Skoene
- Speelgoed en kinderklere
- Bybels in ander tale
- Komberse en kussings
- Nie-bederfbare kos: blikkies, pasta, rys, pap, soppoeier, sout, suiker, tee, ens.
Broodsmeer en aanmaakkoeldrank (ideaal vir kinders wat skool toe gaan)
Toiletware: tandepasta, tandeborsels, roll-on, seep, shampoo, ens.
Skoonmaakmiddels, veral seeppoeier.



