Derde Vat Verniet-tafel grootste ooit
Die dag het goed verloop en bykans 400 mense is gehelp.
Die derde Vat Verniet-tafel wat 25 Oktober in Mooirivier Beskerming se parkeerarea plaasgevind het, was die grootste nog met om en by 400 mense wat verniet benodigdhede kon gaan haal.
Behalwe vir die aantal behoeftige mense wat met elke projek meer word, word die vrywilligers ook meer.
Wat hierdie maand se projek so anders gemaak het, is dat verskeie haarkappers en vrywilligers haarsny dienste aan die minderbevoorregtes aangebied het. Nie net kon mense kos, skoonmaakmiddels en klere kry nie, maar hulle kon ook hare en baard sny en so hulle menswaardigheid terugkry.
Verskeie besighede het nie net donasies gegee nie, maar ook self hulle werkers ingespan en op die dag ingespring om te help.
Daar sal egter nie in November ‘n Vat Verniet-tafel projek gehou word nie, maar wel op die 20ste Desember sal ‘n spesiale byeenkoms vir behoeftige kinders gehou word.
Meer besonderhede sal binnekort beskikbaar gemaak word. Donasies vir speelgoed, koekies, lekkers, kersversieringe, skryfbehoeftes, kinderklere en chippies sal waardeer word.
Enige donasies kan 24/7 by Mooirivier Beskerming se kantore afgelaai word. Vir verdere navraag, kan Angelique by 067 080 2757 gekontak word.

Kyk na die fotos hier:












