Local news

Potch ystervrou wen Inspirasievrou 2025

Vyftien finaliste het die spoggerige pienktapyt toekenningsgeleentheid bygewoon en Santi is as wenner aangewys.

Santi Britz, ook bekend as Potchefstroom se ystervrou, is op 8 November by Monte De Dios in Pretoria as Voelgoed Media se Inspirasievrou 2025 aangewys.

Santi is nie net ‘n dinamiese vrou, ouma en sakevrou nie, sy is ook die stigter van iDUC (Initiative for Dedicated Upliftment and Care), ‘n inisiatief wat slagoffers van geslaggebaseerde geweld help. Dit is immers hierdie goeie werk wat haar die titel van Inspirasievrou 2025 verseker het.

Haar pad het in 2009 begin toe sy self die trauma van verkragting deurgemaak het. Ná maande van lyding en ’n hofsaak waarin haar aanvaller lewenslank gevonnis is, het sy besluit om ander te help wat deur die sisteem gefaal word.

Vir maande lank kon mense die stories van omgee en onbaatsugtigheid van die eerste 50 finaliste lees. Lesers het kans gehad tot 31 Augustus om vir die wenner te stem. Daarna was dit in die beoordelaars se hande. Vyftien finaliste het die spoggerige pienktapyt toekenningsgeleentheid bygewoon en Santi is as wenner aangewys.

“Dit was ‘n ongelooflike verrassing,” vertel Santi.

“Iemand het my genomineer en dit is so ‘n groot voorreg om uit meer as 2 000 nominasies gekies te word. Daar was soveel dinamiese, opregte vroue. Dit is ‘n ongelooflike eer.”

Santi vertel daar word geweldig gefokus op die perfekte voorkoms en uiterlike, die mense mis die waarde wat vroue deur hulle stories te deel tot die samelewing kan byvoeg.

Realness is vir my so belangrik, veral as mens deur die trauma van verkragting of molestering gaan. Dit is ‘n pad wat jy met jouself moet stap. Jy is die een wat moet besluit of jy dit wil wegbêre en of jy die moed gaan hê om deur die 4×4 roete te gaan en te besef dit is nie ‘n snelweg nie. Daar is egter asemrowende tonele en oomblikke wanneer ons die ware pad na genesing kies.”

Santi gaan voort om te sê mans moet die harde realiteit besef en opgerig word oor die groot verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus om deel van die oplossing te word en ‘n stop aan geslaggebaseerde geweld te sit.

“Daar word elke 29 sekondes ‘n vrou in Suid-Afrika verkrag. Dit is nie kultureel of ras gebonde nie. Daar is ook ‘n enorme probleem met ons regstelsel. Slagoffers word deur die regstelsel uitmekaar getrek, en van vooraf getraumatiseer. Ons moet ‘n manier vind om die bewyslas van die slagoffer weg te vat en op die verkragter te plaas.”

“Ek wil graag vir Voelgoed Media bedank vir die platform wat hulle geskep het om dit moontlik te maak om die boodskap daar buite te kry en die voorreg om Inspirasievrou 2025 te kan wees. Ek wil ook graag vir my man en kinders baie dankie sê. Julle was absoluut vir die laaste 16 jaar my vlerke.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button