1250 Verdagtes vir verskeie misdade in hegtenis
Die misdade wissel van inbrake by residensiële en nie-residensiële persele, ernstige rooftogte, moorde, verkragtings, handel in en besit van dwelms tot bestuur onder die invloed.
Die polisie in die Noordwes het tydens die weeklikse geïntegreerde en multidissiplinêre Shanela 2 / Veiliger Feesseisoen-operasies, 1250 verdagtes vir verskeie misdade in hegtenis geneem.
Brigadier Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die misdade wissel van inbrake by residensiële en nie-residensiële persele, ernstige rooftogte, moorde, verkragtings, handel in en besit van dwelms tot bestuur onder die invloed.
“Die operasies onder leiding van offisiere is uitgevoer tussen 17 en 23 November. Van die 1 250 gearresteerde verdagtes, is 423 deur speurders in hegtenis geneem as diegene op die gesirkuleerde gesoekte verdagteslyste.”
Hy gaan voort om te sê deur middel van nakomingsinspeksies om die bepalings van die Wet op Drank en Tweedehandse Goedere af te dwing, is 35 ongelisensieerde drankwinkels (sjebeens) gesluit en groot hoeveelhede drank is gekonfiskeer. Verder het die operasies gelei tot die konfiskering van sewe voertuie, vyf vuurwapens, 95 rondtes ammunisie, twee kruiwaens en huisbraakgereedskap, onder andere.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, generaal-majoor (dr.) Ryno Naidoo, het die suksesse verwelkom en aangedui dat die polisie, in samewerking met ander rolspelers, sal voortgaan om openbare veiligheid te verseker.



