Vroue kla mekaar aan by polisie na bakleiery
Twee vroue van Ikageng was Sondag in 'n geweldadige bakleiery betrokke.
‘n Plasing oor ‘n beweerde geval van geslaggebaseerde geweld het die afgelope week reaksie ontlok.
Oorspronklik het die plasings dit met die oogopslag laat klink asof ‘n jong vrou van Ikageng wreed aangerand is, agter ‘n voertuig gesleep is en die verdagtes skotvry daarvan af gekom het.
Volgens Noordwes polisiewoordvoerder, kolonel Adéle Myburgh, ondersoek die Ikageng-polisie twee sake van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
“Die 24-jarige slagoffer was na bewering tot na middernag op Sondag, 4 Januarie by ‘n kuierplek, waar ‘n onderonsie met ‘n ander vrou ontstaan het. Na die insident het vriende die slagoffer huis toe geneem. Sy is glo daarna wéér terug na die kuierplek waar sy die geveg voortgesit het.”
Myburgh gaan voort om te sê dat die slagoffer tydens die insident met ‘n glasbottel in die nek gesteek is. Sy is ook daarna beseer toe sy na bewering vir ‘n kort ent aan ‘n voertuig se deur vasgehou terwyl die voertuig besig was om weg te trek. Dit het gebeur toe vriende vermoedelik van die ander party die onderonsie wou stopsit, terwyl die twee vrouens fisies baklei het.
Albei vroue in hierdie insident het sake van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen mekaar oopgemaak.
Volgens die polisie duur die ondersoek voort.
Lees ‘n opiniestuk oor die voorval hier.



