NewsNews

Massa-vergadering by NWU Potchefstroomkampus

‘Ek is ook produk van die Puk’ Talle studente aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het Dinsdag uit ’n massa-vergadering in die amfiteater geloop toe twee mede-studente Afrikaans aangeval en die tolkstelsel as “’n simbool van onderdrukking en apartheid” uitgekryt het. Die Puk-studenteraad het die vergadering gereël. Hulle het prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die …

Media 24.prof DAN GWADI spreek die NWU Puk studente toe en antwoord vrae oor die toekoms van die Puk.Studente het reg rondom die Amfi-Teater gestaan en luister.foto Mario van de Wall
Media 24.prof DAN GWADI spreek die NWU Puk studente toe en antwoord vrae oor die toekoms van die Puk.Studente het reg rondom die Amfi-Teater gestaan en luister.foto Mario van de Wall

‘Ek is ook produk van die Puk’

Talle studente aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het Dinsdag uit ’n massa-vergadering in die amfiteater geloop toe twee mede-studente Afrikaans aangeval en die tolkstelsel as “’n simbool van onderdrukking en apartheid” uitgekryt het.

Die Puk-studenteraad het die vergadering gereël. Hulle het prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU, genooi om met studente te praat oor hul bekommernisse oor die proses om ’n nuwe universiteitstrategie vir die volgende tien jaar te ontwikkel.

Toe Kgwadi die verhoog betree, het die studente gedreunsing: “Kyk net hoe baie Pukke is ons hier!” Monica van Schalkwyk, studenteraadsvoorsitter, het die sowat 2 000 studente in die amfiteater gemaan om neutraal te wees in die vraetyd ná Kgwadi se kort inleidende toespraak.

Die oorgrote meerderheid van studente het dit eerbiedig en vrae gestel oor onder meer die behoud van die Puk-handelsnaam. Die studente het egter kliphard gemor toe ’n mede-student die mikrofoon neem en aan Kgwadi sê: “Swart studente het u beskerming en ondersteuning nodig, want die Afrikaanse taal en kultuur hier is ten koste van ons en ondermyn ons.”

Heelwat studente het die afmiteater toe verlaat. ’n Rukkie later het nóg ’n student losgetrek en Kgwadi beskuldig dat hy ’n “verskonende houding” het.
“Die kopstukke (wat vir tolking gebruik word) moet teen 1 Julie waai. Dis ’n simbool van onderdrukking en herinner aan apartheid.” Tientalle studente het in luide protes toe ook die vergadering verlaat.

’n Ander student het gevra die studente moet bly sit en nie ’n rassekwessie hiervan maak nie. Hulle het die vergadering egter steeds verlaat. Nog ’n student wou daarna by Kgwadi weet wat hy gaan doen om Afrikaanse studente te beskerm. “Ek hoor heeltyd ek is ’n rassis omdat ek wit is. My taal word afgebreek en ek hoor ons ís apartheid. Wat is dit? Waar is dit? Óns word onderdruk, óns toekoms is in die gedrang.”

Kgwadi het geantwoord dit sal sleg wees as studente nie by die Puk óf in Mahikeng tuis voel nie omdat hulle swart of wit is. Hy het die studente gemaan om taal nie ’n rassekwessie te maak nie en hulle daaraan herinner dat baie Afrikaanssprekendes nie wit is nie. “Taal moet egter niemand uitsluit nie. Ons moet aanhou praat oor die manier waarop ons funksionele meertaligheidsbeleid geïmplementeer word. Ons moet groei, mekaar leer ken en nie verstrik raak in stereotipes oor wit en swart mense nie.”

Kgwadi het gesê as vise-kanselier is hy gebonde aan die grondwet, wat die reg tot taal erken. “Ek is juis hier om daardie regte te beskerm. Ek is ook ’n produk van die Puk. Ek het my doktorsgraad hier gedoen en het dít in gemeen met julle.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button