Jool, die studentelewe en tradisies soos koshuisdrag sal bly
Jool, die studentelewe en tradisies soos koshuisdrag sal bly, al beweeg die Noordwes-Universiteit (NWU) na ’n meer unitêre model oor al drie kampusse heen. Dít was Dinsdag die versekering van prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier, tydens ’n massavergadering aan studente by die Potchefstroomkampus. Kgwadi het gesê die universiteit het die afgelope tien jaar goed presteer, maar …

Jool, die studentelewe en tradisies soos koshuisdrag sal bly, al beweeg die Noordwes-Universiteit (NWU) na ’n meer unitêre model oor al drie kampusse heen.
Dít was Dinsdag die versekering van prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier, tydens ’n massavergadering aan studente by die Potchefstroomkampus.
Kgwadi het gesê die universiteit het die afgelope tien jaar goed presteer, maar daar is tekortkominge. “My persoonlike mening is dat die NWU nou as ’n eenheid onder een handelsmerk bemark moet word, maar julle as aandeelhouers moet sê hoe en wat die nuwe handelsmerk moet wees.”
Kgwadi het gesê hy sien ’n toekoms van groter eenheid waar die kampusse in onderskeidelik Mahikeng, Vanderbijlpark en Potchefstroom oor en weer groot sportbyeenkomste ondersteun. Kgwadi het beklemtoon die gedagte van een dekaan vir ’n bepaalde vakrigting oor al drie kampusse heen, is slegs ’n voorstel. Hy sê dis daarop gemik dat almal aan die NWU dieselfde graad van dieselfde standaard kry, ongeag die kampus waar dit verwerf is.
“Dit beteken nie noodwendig jy sal na ’n ander kampus moet skuif nie. Die kursusse kan steeds op die onderskeie kampusse aangebied word met adjunk-dekane daar.”
Kgwadi het soos volg reageer op dié vrae van studente.
* Die Puk is ’n nismark waar 85% van die studente van ander plekke kom vir die unieke karakter.
Sal veranderinge nie dié nismark skaad en finansiële verliese tot gevolg hê nie?
Kgwadi: Ons neem in ag kinders in Afrikaanse skole moet êrens gaan studeer.
Ons nismark wat studente lok moet egter eerder die gehalte van ons kursusse én studentelewe wees. Daar moet ’n balans wees.
* By die Puk moes studente weggewys word omdat ons vanjaar minder studiehulpgeld as die ander kampusse gekry het. Hoekom?
Kgwadi: Hulpbronne word gebruik waar die behoeftes is, ook tot voordeel van die Pukkampus.
* Hoekom hoor ons een ding hier, maar in die media word gesê Afrikaans en die Puk-naam gaan waai?
Kgwadi: Niemand hoef bekommerd te wees dat Afrikaans gaan verdwyn nie.
Geen taal moet egter ’n struikelblok wees en ander uitsluit nie. Ons hét ’n funksionele meertalige beleid om almal te probeer insluit.
My persoonlike standpunt oor die Puk-naam wat nog verwerp kan word, is dat dit (vir nou) nog gebruik kan word.
Ek soek egter eindelik een handelsnaam en één standaard met dieselfde hulpbronne op al die kampusse. Ons met beweeg na ’n punt waar ons besef die Puk-naam is deel van die verlede.
* Hoekom word net gepraat van transformasie op die Puk-kampus?
Kgwadi: Elke kampus het transformasieteikens.