NewsNews

Twee derdes ignoreer vierrigting stopstrate in Potch

Honneurs-studente in joernalistiek aan die NWU

Honneurs-studente in joernalistiek aan die NWU
Byna twee derdes van motorbestuurders in Potchefstroom stop nie by stopstrate nie. Talle ignoreer ‘n stopteken geheel en al, ander kyk net gou links en regs voordat hulle vinnig oor die stopstraat ry.
Sowat die helfte van die oortreders is middeljarige mans, met jong vroue net ‘n kortkop agter.
“Motoriste verontagsaam graag die doodstop-reël,” het mnr. Kalla Willemse, senior superintendent by die verkeersdepartement in Potchefstroom gesê.
“’n Vier- of drierigting stopstraat vereis dat alle motoriste binne die interseksie hul voertuig se wiele tot stilstand moet bring. Dit is iets baie anders as ’n toegeeteken en mag ook nie so gebruik word nie.”
Willemse het ook gesê dat voetgangers veronderstel is om voorrang te kry by vierrigting stopstrate.
“Wanneer daar vier motors in die interseksie is, moet die eerste motor wat tot stilstand gekom het, voorrang kry om te ry. Voetgangers kry voorrang indien hulle klaar in die interseksie of kruising staan, ongeag of daar ’n voetoorgang geverf is.”
Willemse het gereageer op bevindings van ’n informele peiling by vier stopstrate op die Bult. Studente verslaggewers van die NWU het die kruisings vir sowat 15 minute lank dopgehou en altesaam 131 bestuurders se gedrag aangeteken. Die doel was om te sien hoeveel bestuurders die verkeersreëls by vierrigting stopstrate gehoorsaam deur dood te stop, en hoeveel die stopteken as ’n toegeeteken gebruik.
Die vierrigting stopstraat by die hoofingang van die NWU-Puk in Hoffmanstraat is waar motoriste die meeste sondig. Byna ’n derde van die bestuurders wat by hierdie kruising waargeneem is, het nie dood gestop nie en sowat 40% van die bestuurders het hierdie stopstraat as ’n toegeeteken hanteer. Slegs 32% van die bestuurders het agter die lyn gestop.
By die vierrigting stopstraat oorkant die NWU-Puk se institusionele kantoor is die tweede grootste aantal verkeersoortredings begaan. Byna twee derdes van die bestuurders het die verkeersreëls by dié stopstraat tussen 11:30 en 11:45 geïgnoreer, waarskynlik omdat dié straat laatoggend taamlik stil is. In dié kwartier is daar 24 motors verby, waarvan byna twee derdes (62.5%) nie die verkeersreëls nagekom het nie. Net meer as ‘n derde (37.5%) van die motors het wel dood gestop agter die streep.
Minder bestuurders is skuldig by die kruising by Esselen- en Hoffmanstraat. Amper die helfte van die bestuurders het by die streep stilgehou, teenoor die agt bestuurders wat die stopteken as ’n toegeeteken gebruik het. Ook by die vierrigting stopstraat by die Rissik- en Malherbestraat-kruising het twee derdes van die bestuurders nie stilgehou nie. Sowat ‘n derde (38.8%) van die bestuurders het wel hier dood gestop. Die studie het getoon dat 54% van die oortreders middeljarige mans is (54%). Jong vroue (37%) is die tweede grootste groep oortreders van verkeersreëls by vierrigting stopstrate. “Die verkeersreëls by stoptekens is in plek gesit om verkeer te reguleer en kalm te hou. Mense moet die reëls gehoorsaam vir hulle eie veiligheid, asook die van ander,” het Willemse gesê. Oortreders moet besef dat daar op hulle toegeslaan gaan word indien hulle oortree. Volgens hom kan die boete vir die verontagsaming van ’n stopteken tot R800 beloop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button